OBADJA (BYBELBOEK)

OBADJA (BYBELBOEK) is met sy een en twintig verse die kortste boek in die Ou Testament*. Die naam “Obadja” beteken “dienaar/aanbidder van die Here”, maar daar is geen persoonlike besonderhede oor die profeet beskikbaar nie. Die Talmud* beskryf hom as ’n amptenaar van koning Agab* (vgl 1 Kon 18:1-15), maar hierdie siening word nie deur die meeste kenners aanvaar nie.

Historiese agtergrond: Geleerdes dateer Obadja ná die val van Jerusalem* in 587/6 vC. Vers 10-14 verwys moontlik na die val van Jerusalem en vers 20 na die Babiloniese ballingskap*. Obadja veronderstel dat die Edomiete* as volk bestaan het, dit wil sê voordat hulle in die 4de eeu vC deur die Nabateërs verdryf is. Die Edomiete was die afstammelinge van Esau* (Gen 25:19–27:45) en is as “broervolk” van die Israeliete be­skou (vers 10). Ongelukkig was daar ’n lang tra­disie van vyandskap tussen Israel*, Juda* en Edom (Num 20:14-21; 1 Kon 11:14-22; 2 Kon 14:7). Edom was geleë aan die suid-oos­telike kant van die Dooie See, in die omgewing van die huidige Petra in Jorda­nië. Hierdie ligging het aanleiding gegee tot hoogmoed by sy inwoners. Vanweë die bergagtige landskap (vers 3-4, 19, 21) was die dorpe/stede van Edom moeilik be­reikbaar en het hulle gedink dat hulle land nie ingeneem kon word nie. As gevolg van hulle sentrale ligging (langs twee belang­rike handelsroetes) was hulle redelik ryk en goed ingelig. Aan die ander kant kan Edom nie met die magtige ryke van daardie tyd vergelyk word nie. Edom is vir die grootste gedeelte van sy geskiedenis gedomineer deur Israel.

Samestelling en verdeling: Obadja 1-10 kom feitlik woordeliks met Jer 49:7-22 ooreen. Daar is talle onbeantwoorde vrae in die lig van hierdie ooreenkoms. Het hulle dieselfde bron gebruik? Watter in­vloed het dit op die datering van die spesifieke gedeeltes? ’n Moontlike verdeling vir die boek Obadja is: vers 1 (Inleiding); vers 2-14 (Die straf oor Edom); vers 15-21 (Die dag van die Here).

Boodskap: Obadja rig sy boodskap tot ’n moedelose volk wat alles tydens die Babilo­niese ballingskap* verloor het. ’n Saak wat hierdie lyding nog erger gemaak het, was die verskillende groepe en volke wat die Babiloniërs* teen die Judeërs ondersteun het. Veral die Edomiete se optrede het die seerste gemaak, omdat hulle familie van mekaar was (vgl Ps 137:7; Eseg 25:12). Die profesieë van Obadja wil sy moedelose volk oproep om te glo dat die geskiedenis van volke en nasies in die hand van God is. ’n Sentrale tema in die boek is die “dag van die Here”*. By Amos* en die ander vroeëre profete word daar verwys na ’n dag van straf en vergelding vir Israel. In Obadja word dit beskryf as ’n dag van oordeel vir die ánder volke (vers 15-16). Israel sal bevry word en die grond terugkry wat as straf van hulle weggeneem is (vers 17-21). Telkens in die boek word beklemtoon dat die wiel sal draai en dat dinge omgekeer sal word (bv in vers 15 waar beskryf word dat wat Edom gedoen het, aan hom ge­doen sal word). (Kyk ook: Boek van die Twaalf.)

Vir verdere lees: J Barton 2001. Joel and Obadiah (OTL). Louisville: Westminster John Knox. PJ Botha 2003. “Social Values in the Book of Obadiah” in: Old Testament Essays 16/3, 581-597. G McConville 2002. Ex­plo­ring the Old Testament. Volume 4: Pro­phets. Londen: SPCK.

Sidebar