OBERHOLZER, PIETER HENDRIK

OBERHOLZER, PIETER HENDRIK (1950–) het teologie* op Stellenbosch stu­deer, maar is nie tot die bediening van die NG Kerk* toegelaat nie omdat hy openlik gay* is en dit ná verskillende soorte behandeling gebly het. Hy vertrek na Nederland waar hy ná verdere studie in die Gerefor­meerde Kerken georden word en die ge­meentes van Oosterhout en Uithoorn be­dien. Hy was in die middel-1980’s betrokke by verskillende gemeenskapsontwikke­lings­­pro­gram­me in en om Kaapstad – ook by die Crossroads Crisis Committee en die Victims of Apartheid Trauma Monitoring – en is by twee geleenthede aangehou. Hy was namens OLGA (Organization of Les­bian and Gay Activists) deel van gesprekke wat uiteindelik daartoe sou lei dat die sg seksuele oriëntasie-klousule in die Grondwet van Suid-Afrika opgeneem is. In 1995 begin hy die Gay and Lesbian Chris­tian Outreach (GLCO) om na kerke in Suid-Afrika uit te reik en lesbiese en gay Chris­tene te ondersteun – die naam van dié or­ga­nisasie is in 2000 verander na Inclusive and Affirming Ministries (IAM)*. Oberholzer was ’n dryfkrag agter die verslag oor homo­seksualiteit* wat in 1999 voor die Wes-Kaapse sinode* van die NG Kerk gedien het en ’n rigtingveranderende skuif in dié kerk se denke oor homoseksualiteit teweeggebring het. Hy het saam met Carel Antho­nissen* die boek Gelowig en gay? (1999), wat by die verslag aan die sinode aansluit, geskryf. In dieselfde jaar het hy ’n toekenning van die Gay and Lesbian Alliance Against Defamation (GLAAD) in Kansas City ontvang ter erkenning van sy werk. In 2018 was hy een van 12 lidmate van die NG Kerk* wat hulle tot die Hooggeregshof gewend het om die 2016-besluit van die Buitengewone Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings ongedaan te maak en die positiewe 2015-besluit van die Algemene Sinode te herstel.

 

Sidebar