OBJEKTIWITEIT EN ONPARTYDIG­HEID

OBJEKTIWITEIT EN ONPARTYDIG­HEID. In die moderne wetenskapsbede­ling het die positivisme* die siening gevestig dat die wetenskap objektief en neutraal* moet wees deur bloot sintuiglik-waarneembare feite te registreer. Teenoor objektiwiteit word “subjektiwiteit” dan – in die sin van willekeur – gestel. Die moderne wetenskapsteorie – Popper, Kuhn, Lakatos, Feyera­bend, Stegmüller en andere – het intussen die onhoudbaarheid van die positivisme aangetoon.

Wie egter willekeur wil vasstel, moet een of ander norm (eis van so behoort) as maatstaf aanlê, want ’n persoon wat willekeurig optree, handel altyd anti-normatief. Dit is egter slegs die mens wat in onderworpenheid aan norme (of beginsels) anti-normatief (of beginsel-strydig) kan optree – willekeur beliggaam derhalwe anti-normatiewe subjektiwiteit. Die keersy van anti-normatiewe subjektiwiteit is egter nie objektiwiteit nie, maar norm-gehoorsame subjektiwiteit. Gevolglik is dit ook verkieslik om nie van neutraliteit te praat nie, maar liefs van onpartydigheid.

In ’n ander wysgerige tradisie – waar die idee van “waardes” die eerste keer beslag gekry het – word (objektiewe) beskrywing teenoor (subjektiewe) evaluering gestel (die invloed van die neo-Kantiaanse Badense skool). Beskrywing behels egter altyd identifisering en onderskeiding in onderworpenheid aan die logies-analitiese beginsels van identiteit en non-kontradiksie – wat beteken dat beskrywing bloot analitiese evaluering is. Hoogstens kan onderskei word tussen analitiese en nie-analitiese (bv ekonomiese, estetiese en juridiese) evaluering.

Sidebar