ODENDAAL, DIRK HERMANUS

ODENDAAL, DIRK HERMANUS (1928–1990) se akademiese loopbaan het in 1957 by die Decoligny-Teologiese Kollege in die Oos-Kaap begin en van 1972 tot 1990 was hy verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch (Departement Ou Testament*). Odendaal het sy doktorsgraad by die West­minster Theological Seminary in die VSA onder leiding van prof EJ Young voltooi met die proefskrif: The Eschatological Expectation of Isaiah 40–66 with Special Reference to Israel and the Nations. Sy publikasies het onder andere op die volgende sake gefokus: aard van die Messiaanse (Kyk by: Messias) verwagting; die verbondsteologie (Kyk by: Verbond); die betekenis van die Ou Testament vir die kerk* en sy verkondigingstaak in die wêreld; die verstaan en prediking van ’n teks; die wysheids­literatuur (Job*). Kenmerkend van sy akademiese styl was ’n omvattende teologiese benadering; dit wil sê hy sou nie die Ou Testament op sigself bedryf nie, maar dit telkens in verband bring met die ander teologiese dissiplines. Hy was ’n gereelde medewerker van die bekende Woord teen die Lig-preekhulpreeks waar hy sy benade­ring prakties toegepas het.

Odendaal het ’n groot bydrae tot die Xhosa*-Bybelvertalingsprojek gelewer, om­dat hy een van die min geleerdes in Suid-Afrika was met ’n uitstekende kennis van Xhosa, Hebreeus* en Grieks*. Tot met sy dood in ’n motorongeluk was hy aktief betrokke by die verkondiging van die evangelie* in die Kaapse Vlakte.

Sidebar