OFFERS EN OFFERANDES

OFFERS EN OFFERANDES speel ’n kar­dinale rol in die Bybel*, in beide Ou* en Nuwe* Testament. Hoewel die meeste Chris­tene vandag dié manier van aanbidding as uiters vreemd beleef, het hierdie ritu­ele ’n groot invloed gehad op die in­houd van ons geloof*. In Hebreeus* bestaan daar verskeie woorde (ten minste sewe) wat met “offer” of “slagoffer” of iets soortgelyks vertaal kan word, hoewel dit meestal moeilik is om die ideale woord in Afrikaans* te kry. In die meeste gevalle het dit beteken dat iets op ’n altaar* gebraai of heeltemal verbrand is. Die vernaamste teks wat aan ons voorskrifte oor hierdie rituele gee, is Lev 1–7. Daar is ander tekste ook, veral in sg priesterlike literatuur soos in Eksodus* en Numeri*.

  1. Die brandoffer (letterlik in Hebreeus: “wat opgaan”) is volledig op die altaar verbrand, soms saam met ’n graanoffer en drankoffer (sien Num 15:1-10). ’n Brandoffer kan ’n bees, skape, bokke of ’n duif wees (sien Lev 1).
  2. In Lev 2 word die graanoffer beskryf, maar in die res van die Bybel word hierdie Hebreeuse woord soms anders gebruik en dit beteken basies “geskenk”. Dit het gewoonlik bestaan uit meel gemeng met olyfolie en wierook (Kyk by: Reukoffer) en soms sout, en is meestal deur die priesters*1 geëet nadat ’n deel verbrand is.
  3. Dit is onseker of vredesoffer ’n goeie vertaling is vir die volgende offer, maar die Hebreeus beteken basies dit. Die 1983-Afrikaanse Vertaling is geneig om dit met maaltydoffer te vertaal. In Lev 7:11-18 word drie soorte onderskei, naamlik ’n dankoffer, ’n gelofte-offer en’n vrywillige offer. Hoewel die bloed van die dier meestal op die altaar ge­sprinkel word, kan die persoon wat die of­fer bring, die vleis eet. Soms kry die priesters ook ’n deel.
  4. Die reinigingsoffer beteken eintlik “sonde” in Hebreeus (en word as sondeoffer deur die 1983-Vertaling vertaal), maar dit het meestal te doen met ’n oortreding wat onwetend begaan is (sien Lev 4) of pro­bleme met rein en onrein* (sien Lev 5:1-10). Dit word ook gebruik in die proses om weer rein verklaar te word (bv Lev 12, 14 en 15). Daar is verskillende offers vir verskillende persone soos priesters*, leiers, ’n indiwidu, die gemeenskap (Lev 5:1-13).
  5. Die skuldoffer is soms moeilik om te verstaan omdat dit vir soortgelyke oortre­dings gebruik word as die reinigingsoffer*. So word dit bv gebruik wanneer iemand ’n heilige voorwerp verkeerd gebruik het (Lev 5:14-16), of onbewustelik gesondig het (Lev 5:17-19), of vir die reiniging van ’n velsiektelyer (Lev 14:12-13).
  6. Slagoffer kom van die Hebreeuse woord “om te slag” af. Die Hebreeuse woord vir “altaar” word ook van hierdie wortel afgelei. Die soort diere wat meestal as slagoffers gebruik is, was bulle, bok­ramme of skaapramme. In alle gevalle moes hulle “volmaak” gewees het, dit beteken: sonder gebrek en nie gekastreer nie (behalwe by die “vrywillige gawes”, kyk by Lev 22:23). By sekere offers kon arm mense tortelduiwe gebruik en vir die “vredesoffer” kon ’n manlike of vroulike dier gebruik word.

Die handeling van offer: In die meeste gevalle het die offer van ’n dier in ses fases plaasgevind (kyk na Lev 1). 1. Die persoon het die offer gebring tot by die voorhof* van die tabernakel* of later tempel*. 2. Hy het sy hande op die kop van die dier gelê, moontlik om sy skuld op die dier oor te dra. 3. Hy het die dier geslag. 4. Nou het die priesters iets met die bloed gedoen soos om dit op die altaar te sprinkel of op die basis uit te gooi. 5. Die priesters het ’n deel van die offer verbrand (of by ’n brandoffer alles behalwe die vel), soos die vet om die ingewande. 6. Dan het of die persoon of persone wat die offers gebring het, of die pries­ters en hulle families, of beide groepe saam, die res geëet – afhangende van die soort offer.

Kinderoffers: Uit die Bybel blyk dit dat daar van tyd tot tyd kinderoffers plaasgevind het in Israel* se omgewing. ’n Bekende verhaal is dié aan die einde van 2 Kon 3 waar die koning van Moab* sy seun as “brandoffer” offer en dit die Israeliete so skok dat hulle terug is huis toe. Die offer van kinders word geassosieer met die aanbidding van Molek* en word in die Bybel verbied (Lev 20:1-5). Sekere konings soos Agas* (2 Kon 16:3) en Manasse* (2 Kon 21:6) word daarvan beskuldig dat hulle hulle seuns so geoffer het. In 2 Kon 17:17 word dit ook as rede vir die ballingskap* genoem dat Israel hulle seuns en dogters geoffer het. Hoewel die Bybel dit meestal veroordeel, is daar ’n verhaal soos dié van Jefta* (Rig 11) in die Bybel waar die gebruik nie ver­oordeel word nie.

Betekenis van offers. Die doel van ’n offer was om versoening te bewerkstellig (Lev 1:4), maar presies hoe dit verstaan is, is vandag moeilik om te omskryf. Dit het beslis iets te doen gehad met die vloei van bloed en met die gee van ’n lewe. Baie verstaan dit so dat die offerdier as plaasvervanger vir die mens optree in ’n soort ruiltransaksie vir die mens se oortredings. Vir ander het dit meer te doen met die feit dat die bloed die tempel geheilig het, nadat die oortredings dit ontheilig het. Dit is wel belangrik dat Israeliete dit verstaan het as ’n uitdrukking van hulle geloof met die doel om hulle verhouding met God in stand te hou. Vir die profete* was dit natuurlik soms absurd en word gehoorsaamheid en geregtigheid hoër geag as die bring van offerandes (kyk na Jes 1:11-14; Amos 5:21-23; Miga 6:6-9; Jer 7:21-23).

In die Nuwe Testament vind ’n mens baie verwysings na offers en dit behoort geen verrassing te wees nie, aangesien offers nog konstant na Jerusalem* gebring is in die tyd toe die grootste deel van die Nuwe Testament ontstaan het. So lees ons bv dat Jesus* se ouers twee tortelduiwe (die arm persoon se opsie volgens Lev 12:8) gebring het as reinigingsoffers. Vir Jesus is offers ook nog ’n deel van die geloofslewe, hoewel Hy dikwels meer klem lê op die beginsel agter die bring van offers (bv Matt 5:21-22). Maar dit is veral in Hebreërs* waar ons die mees uitgewerkte verstaan van offers in die Nuwe Testament kry. So word Christus* in Heb 9:23-28 beskryf as ’n volkome offer wat eenmaal geoffer is om die sondes van baie weg te neem. Maar Christus is ook beter as die offers van die ou verbond*, want hulle was net simbolies en Hy bewerkstellig nou ware versoening (Heb 10:1-18). Hierdie tema van Christus as soenoffer kry ’n mens eintlik dwarsdeur die Nuwe Testament en is beslis een van die fondamente van die Christelike geloof.

Die tekste wat vir ons die instelling van die nagmaal* beskryf, is ook vol terme wat herinner aan offerandes. Luk 22:19-20 praat van ’n liggaam wat “gegee” is en bloed wat “vergiet” word. Dit is offerterme (kyk ook na Matt 26:28 en Mark 14:24). Ook Paulus* vergelyk die “beker van danksegging” en die “brood wat ons breek” met dit wat op ’n offeraltaar gebeur in die Joodse* geloof (1 Kor 14:22). By hierdie teks kom die belang­rikheid van die nagmaal as gemeenskap met God ook na vore en is dit duidelik dat offertaal in die Nuwe Testament soos in die Ou Testament altyd ten doel het om die gelowige se verhouding met God te versterk.

Sidebar