OLIESEL

OLIESEL. Die siekesalwing of oliesel is een van sewe sakramente* in sowel die Kato­lieke* as die Ortodokse* kerke. Wan­neer iemand ernstig siek word of deur ou­derdom of besering in gevaar van dood verkeer, word ’n priester*2 ontbied om die siekesalwing te bedien (Mark 6:13 en Jak 5:14-15 is hier van toepassing.)

Die voorhoof en hande van die persoon word gesalf met ’n gebed vir die helende genade van die Heilige Gees* (sien 1 Kor 12:9). As dit moontlik is, word die persoon ook aangemoedig om te bieg*, en ná die salwing word nagmaal bedien. Die Latynse woord viaticum wat vir hierdie nagmaal gebruik word, beteken letterlik “padkos”.

Die nadruk in hierdie sakrament van die Katolieke Kerk, is vandag eerder op ge­nesing waar dit voorheen meer gemik was op voorbereiding vir die dood. Die ou Engelse benaming “extreme unction” illustreer hierdie punt. Wanneer ons van ge­nesing praat, is dit nie net liggaamlike ge­nesing wat ter sprake is nie. Dikwels is die genesing wat benodig word, eerder van ’n geestelike aard. Die oliesel is ook bedoel as ’n geleentheid om jou leed met die lyding van Christus* te verenig. Die siekesalwing kan meermale ontvang word.

 

Sidebar