OLIVIER, JOHANNES PETRUS JA­CO­BUS (HANNES)

OLIVIER, JOHANNES PETRUS JA­CO­BUS (HANNES) (1945–1998) was verbonde aan twee departemente van die Universiteit van Stellenbosch: die departement Semitiese Tale* (1969–1980) en die departement Ou Testament* (1981–1998). Hy het sy doktorsgraad onder leiding van prof Charles Fensham* voltooi met die proefskrif: The Old Mesarum Edict and the Old Testament. Sy talle publikasies het onder andere op die volgende sake gefokus: die Ou-Babiloniese Mesarum-tekste; argeologie* en historiese geografie van die Heilige Land; die stad Akko; Moab* volgens die 19de-eeuse reisberigte; en die verstaan van versoening*, restitusie en armoede* in die Bybel. Verskeie navorsingsprojekte is deur hom geloods.

Olivier het sy studente en mede-akademici gehelp om die teks van die Bybel* sowel as die wêreld agter die teks te verstaan. Hy was een van die min geleerdes met ’n groot kennis van Hebreeus* én die wêreld van die Bybel én die Ou-Testamen­tiese teologie. Olivier was die eerste Suid-Afrikaner wat deur Jordanië genooi is om kongresse daar by te woon en was tot met sy dood mede-direkteur van die Wadi-ath Thamad-argeologiese opgrawingsprojek.

 

Sidebar