OMGEEGROEP

OMGEEGROEP het ’n noemnaam ge­word vir kleingroep. “Omgee” verwys na sterk verhoudings waar lidmate* vir mekaar omgee en aan mekaar versorging bied. Dit, weer, hou verband met kerke se verstaan van die Bybelse* woord koinonia. Binne die gereformeerde* tradisie word hierdie be­grip soos volg verklaar: deelhê aan Chris­tus*, deelhê aan mekaar en ’n verpligting om mekaar met gawes en praktiese ondersteuning te dien.

Net soos in die geval van die huiskerk en selgroep (Kyk by: Huisgemeente), hou hierdie verstaan van groepe ook verband met kerkbegrip. In baie denominasies word die gemeente* as die groter eenheid gesien. In van die mees effektiewe gemeentes word aanvaar dat vir elke 100 lidmate in die erediens* die ge­meente 7-10 kleingroepe behoort te hê. Om­geegroepe word in hierdie beskouing aanvaar as die manier waarop so ’n ge­mee­n­­te gesond kan funksioneer.

Die drang na hierdie manier van funksionering het die afgelope aantal jare egter internasionaal afgeneem. Daar word steeds erken dat dit ’n baie goeie manier is om verhoudings te bou en te onderhou, maar die omgeegroep/kleingroep-benadering het beperkings. Indien daar nie goeie teologiese* leiding gegee word nie, word omgeegroepe soms uitsluitende klieks van eenders­voelendes.

Binne missionêre gemeentes, met ’n sterk (sending-*)gerigtheid op die wêreld, funksioneer omgeegroepe dikwels as die “intreepunte” vir mense wat terugkom na Christus en sy gemeente. Dit word soms ook gesien as ’n “ander manier van kerk-wees”.

Sidebar