OMRI

OMRI was ’n dienskneg van God en ’n generaal in die weermag van koning Ela van Israel*4. Ela is deur Simri* vermoor by Tirsa (1 Kon 16:15-27.) Die oomblik toe die weermag van Omri verneem het van die dood van koning Ela, het hy Tirsa aangeval waar Simri vir sewe dae lank as die volgende koning in die paleis regeer het. Omri het Simri verslaan en in 882 vC koning geword. Vir vier jaar lank was daar voortdurend opposisie teen sy koningskap, veral van Tibni wat ook ’n aanspraakmaker op die troon was. In 1 Kon 16:21 lees ons dat “die helfte van die mense” vir Tibni as ko­ning wou hê. Burgeroorlog het uitgebreek en het vier jaar lank geduur. Ná die dood van Tibni het Omri ses jaar lank in Tirsa regeer. Omri het die hoofstad na Samaria* verskuif, waar hy in 871 vC gesterf het en waar sy seun Agab* hom opgevolg het as koning.

Omri het gedurende sy heerskappy al sy vyande verslaan en het ’n prominente fi­guur geword wat die hele koninkryk verenig het. Die naam Bet-Omri, “die huis van Omri” of “die stad van Omri”, is die woord wat gevind word op Assiriese in­skrip­sies wat verwys na Samaria*.

 

Sidebar