ONDERDOMPELING

ONDERDOMPELING. Die doop* word op twee maniere bedien: deur besprinke­ling* of deur onderdompeling. Daar is kerke wat beide metodes erken, maar daar is kerke wat net onderdompeling erken. Al­hoewel daar nooit in die Nuwe Testament* enige aandag aan die metode van doop gegee word nie, is sekere kerke oortuig dat die Griekse* woord vir doop onderdompe­ling beteken, dat daar inderdaad in die Nuwe Testament deur onderdompeling gedoop is, en dat die betekenis van die doop onderdompeling as metode vereis.

Die Griekse woord vir doop beteken egter nie noodwendig onderdompeling nie (1 Kor 10:2; Hand 1:5; Mark 10:38-39; 7:4 – waar “was” in die Grieks “doop” is). Verder is dit nie uit die voorbeelde van doop dui­delik hoe daar gedoop is nie. Filippus* en die Etiopiër gaan albei in die water in en kom albei uit. Dit sê dus nie hoe die Etiopiër gedoop is nie, maar net dat albei in die water ingegaan het sodat Filippus hom kon doop. Rotstekenings uit die vroeë kerkgeskiedenis wys hoe daar met baie water besprinkel is. Dit kan die rede wees waarom hulle in die water ingegaan het.

Nêrens in die Nuwe Testament word gesuggereer dat die metode van doop die be­tekenis van die doop moet weerspieël nie. Die doop het inderdaad ’n ryk betekenis en hou onder meer verband met die vergewing* en reini­ging van sonde*, die inlywing in Christus* en in die gemeente* en in die verbond*, en die ontvangs van die Gees*. Maar daar kan ook geen grondige be­sware ingebring word téén enige van die metodes nie.

Sidebar