ONDERWYSING

ONDERWYSING. Die Ou Testament* gebruik twaalf en die Nuwe Testament* vyf woorde om na onderwysing, leer en on­der­rig te verwys. God self onderrig mense (Job 36:22). Hy leer Moses* (Eks 4:12), Israel* (Eks 24:12), Dawid* en sy opvolgers wat die verbond* behels (Ps 132:12), God leer Juda*, al is dit tevergeefs (Jer 32:33). Hy leer boere (Jes 28:24-26), soldate (2 Sam 22:35), konings* (Ps 72:1). God leer sondaars om sy wil te doen (Ps 25:8-9; 143:10), nasies, die mensdom (Ps 94:10).

Ook mense gee onderrig: Moses aan die volk (Deut 4:1), ouers aan kinders (Deut 4:10), Leviete* en priesters* (Lev 10:11) gee onderrig, en ook regters (Lev 17:9-11). Wyses moet die volgende geslagte leer (Spr 1:2; 13:14; Pred 12:9).

In die Nuwe Testament is dit ook God (1 Tess 4:9) en die Heilige Gees* wat leer (1 Kor 2:13; Joh 14:26). Veral Jesus* gee onderrig (Kyk by: Rabbi). Die Evangelies* verwys dertien keer samevattend na Jesus wat “leer” (Mark 2:13; 10:1 ens). Hy leer sy dissipels*, in die sinagoge* (Luk 4:21), in die tempel* (Mark 12:35), langs die see, enige plek (Luk 13:22). Jesus leer met gesag (Matt 7:29), veral deur gelykenisse*. Sy onderwy­sing fokus op die koms van die koninkryk* van God (Matt 5:2; 9:35), sy lyding en sterwe (Mark 9:31; 10:45) en sy wederkoms* (Matt 24–25). Wat Hy doen en leer, het die Vader* Hom geleer (Joh 8:28), en wanneer Jesus weg is sal die Heilige Gees sy dissipels leer (Joh 14:26). Die dissipels leer mense (Mark 6:30), en dit is deel van Jesus se laaste op­drag aan hulle (Matt 28:20). Hulle leer mense in Jesus se Naam van sy opstan­ding*, dat Hy die Christus* is (Hand 4:2,18), die grondwaarhede van die Woord* (Heb 5:12). Paulus* onderrig drie jaar lank in Efese* (Hand 20:31). Die apostel* waarsku teen vals onderwysing (1 Tim 1:3; 6:3).

Vir verdere lees: Bybelgenootskap van Suid-Afrika: “Leer” in 1998. Verwy­singsbybel 1983-vertaling: Band 2 Naslaan­materiaal. Kaapstad.

 

Sidebar