ONFEILBAARHEID

ONFEILBAARHEID is volgens die HAT (2005) om vry te wees van dwaling, van vergissing, nooit ’n fout te begaan nie. Hierdie eienskap word in die godsdiens op onder andere God  en die Bybel* toegepas.

Die gereformeerde* oortuiging is dat God sonder sonde* is en ook nie sonde doen nie. God is dus ’n onfeilbare wese. Dit is belangrik om daarop te let dat Christus* óók in sy menslike natuur sonder sonde was. Hoewel volledig mens*, het Chris­tus ás mens geen sonde gehad of gedoen nie.

Die Bybel is onfeilbaar in die sin dat dit die ware openbaring van God aan die mens is. Die Bybel is onder leiding van die Hei­lige Gees* geskryf en daarom is die Bybel, wat vertel wie God is en hoe Hy tot die mens se redding gekom het, waar. Waar Bybelse historiese gegewens, biografiese besonderhede ens verskil van historiese, argeologiese* en/of militêre feite, moet die genre van die besondere Bybelboek, die bedoeling van en die tyd waarin die skry­wer aan sy “eerste lesers” geskryf het, in ag geneem word.

Ook die geloof* is onfeilbaar. Dit is nie die gelowige wat glo wat onfeilbaar is nie, maar dit waarin hy of sy op grond van God se geopenbaarde Woord glo.

Die Protestantisme* onderskryf nie die onfeilbaarheid van die pous* nie. Hoewel hy binne die Katolieke Kerk* gesien word as plaasbekleder vir Christus op aarde, is nóg hy nóg sy ex cathedra-uitsprake* volgens Protestantse oortuiging onfeilbaar.

 

 

Sidebar