ONGELOOF

ONGELOOF. Geloof* is om seker te wees van die dinge wat ’n mens hoop en om oortuig te wees van dinge wat ons nie kan sien nie (Heb 11:1). Ongeloof is dus om nié hiervan oortuig en seker te wees nie. Die teenstelling tussen geloof en ongeloof gaan oor die wie en die waarop ’n mens se vertroue gestel word – of nie gestel word nie. Die basis van sekerheid, oortuiging en vertroue word vir gelowiges gevind in Christus*, dit word gegee deur die Heilige Gees* en kom neer op ’n totale hartsoorgawe aan God – en is nie afhanklik van of aangewese op empiries-bewysbare feite nie. Ongeloof het nie hierdie basis nie. ’n Mens kan ook nie “gedeeltelik” glo en “gedeeltelik” ongelowig wees nie. ’n Mens glo of jy glo nie. Wat nie wil sê dat ’n gelowige nie ook soms kan twyfel* nie. Ongeloof dui in die volksmond nie op twyfel nie, maar word eerder verstaan as ’n heidense gesindheid en ’n antigodsdienstige of antireligieuse lewens­houding. Ongeloof is egter ook nie noodwendig dieselfde as ’n a-religieuse vertrek­punt of ateïsme* of agnostisisme* nie. Wie a-religieus is, is neutraal teenoor godsdiens. Wie ateïsties is, ontken die bestaan van God – is ’n “godloënaar”. Wie agnosties is, sê dat ons niks oor God of die hiernamaals weet of kan weet nie. Kleingeloof moet ook nie met ongeloof verwar word nie. Kleingeloof is om swak of wankelend van geloof, of skepties oor ’n bepaalde saak, te wees.

Sidebar