ONGEREGTIGHEID

ONGEREGTIGHEID is ’n aspek van die breër begrip “sonde”* en word daarom dikwels as ’n sinoniem vir sonde gebruik (Eks 34:7-8; Ps 38:19; Jes 5:18; Jer 30:14-15). Nie­mand is in die lig van God se geregtig­heid* en sy wet* regverdig nie. Ons onge­regtigheid word juis daardeur bevestig (Rom 3:5-21).

Ongeregtigheid is nie noodwendig ’n indiwiduele daad nie, maar omskryf die omvattendheid van sonde (Rom 1:18, 29). Dit is die uiterlike kenmerk van mense wat onder die mag van die sonde* is, bv­ oneerlikheid (Joh 7:18), onderdrukking van die waarheid* (Rom 1:18; 2:8), misbruik van die tong (Jak 3:6), onbillike (liefdelose) optrede teenoor ander, wie hulle ook al is. Om vir ongeregtigheid te kies, is om teen die waarheid van die evan­gelie* te kies (2 Tess 2:11). Wie aan die Here* behoort, kies teen ongeregtigheid (2 Tess 2:19). Mense wat ongeregtigheid doen, sal nie die koninkryk* van God sien nie (1 Kor 6:9-10). Ongeregtigheid sluit dus alles in wat teen die morele kodes, gebruike en aanvaarbare gedrag ingaan en (God se) orde van die wêreld versteur.

God vergewe ongeregtigheid (Num 14:18). Die regverdige Here het in die plek van die onregverdiges gesterf (1 Pet 3:18). Daarom mag ons ons sondes bely voor dié Een wat ons van alle ongeregtigheid reinig (1 Joh 1:9). (Kyk ook by: Onregverdig.)

 

Sidebar