ONREGVERDIG

ONREGVERDIG. In die Bybelse* regs­wê­reld is ’n onregverdige onder andere ie­mand wat bevooroordeeld is. Die volk mag geen party bevoordeel het weens status of gebrek daaraan nie (Lev 19:15). Onregver­dige beslissings bevoordeel die goddelose en benadeel die arme, hulpelose, behoef­tige, weduwee en wese (Ps 82:2-5). Regverdi­ge mense verset hulle teen onregverdige gevangenskap (Jes 58:6).

In die Bybelse ekonomiese wêreld dui onregverdig op wins wat gemaak word deur bedrog te pleeg (Jer 6:13; 8:10; Eseg 22:13). Die profete* kla dat almal daaraan skuldig is, selfs die profete* en priesters*. Dit loop hand aan hand met onderdruk­king, afpersing en bloedvergieting (Jer 22:17). Uiteindelik lei onregverdigheid tot mense se ondergang (Spr 15:27). God sien die onreg raak (Klaagl 3:35-36) en slaan ag, meer as die onregverdige regter, op mense in nood se hulpgeroep (Luk 18:6). Hy spreek reg oor onregverdiges en regverdiges (Pred 3:16).

God is regverdig* as Hy onregverdiges ver­oordeel (Rom 2:5; 3:1-6; 2 Tess 1:6,7). Hy is onpartydig in sy barmhartigheid* (Rom 9:14-16; 2 Tess 1:5). Niks wat ons doen, kan sy barmhartigheid verdien nie. Christus*, die regverdige Regter, gee op grond van sy versoeningsoffer die oorwinnaarskroon (1 Joh:1-2; 2 Tim 4:8). (Kyk ook by: Ongeregtigheid.)

Sidebar