ONS VADER

ONS VADER. Die “Ons Vader”-gebed kom in Matt 6:9-13 en in ’n korter vorm in Luk 11:2-4 voor. Moontlik kom die een tradisie (Matt 6) uit Galilea* en die ander (Luk 11) uit Jerusalem*. Sommige meen Lukas* se vorm is die oudste, maar Matteus* se woor­de is die naaste aan Jesus* se Ara­mees*. Jesus kon meer as een keer die Ons Vader aan sy dissipels* voorgehou het, en variasie was gebruiklik in Joodse* gebede. Die spesifieke konteks van elke Evangelie* en sy lesers speel ook ’n rol. Sommige meen dat die Ons Vader doelbewus in die middel van die Bergrede* (Matt 5–7) geplaas is, wat die belangrikheid daarvan onderstreep. Die Ons Vader kan as ’n samevatting van die belangrikste motiewe in die Matteus-Evangelie beskou word.

Die Ons Vader in Matt 6 bestaan uit die aanhef gevolg deur drie U-bedes (6:9b-10) en drie ons-bedes (6:11-13). Luk 11:2 begin slegs met “Vader”* wat bekend is as ’n verwysing na God (Deut 32:6; Jes 63:13). Tog noem Jesus op unieke wyse God “Abba”* (Aramees: “vader” – Mark 14:36; Rom 8:15; Gal 4:6) en Hy leer sy dissipels om dit ook te doen.

In Luk 11:2 ontbreek die derde U-bede (Matt 6:10b: “laat u wil geskied”) en ’n deel van die derde ons-bede (Matt 6:13b: “en laat ons nie …”). Volgens Augustinus* en die Lutherane* bestaan Matt 6:13 uit twee bedes en is daar dan sewe bedes. Die Ons Vader is vir dissipels, dus vir liturgiese* gebruik in die gemeente*, bedoel, maar dit sluit nie persoonlike gebruik uit nie. In die eerste drie U-bedes gaan dit oor die Naam, die koninkryk* en die wil* van God. Die plasing van die werkwoord beklemtoon hier dat God se handeling verwag word, hoewel die bidder se aktiwiteit nie uitge­skakel is nie. Dit word bevestig deur die laaste gedeelte van vers 10 wat letterlik lui: soos in die hemel ook op die aarde, wat nie net by die derde bede hoort nie, maar die slot van al drie die U-bedes vorm. Die laaste drie bedes is gerig op die konkrete nood van eenvoudige en arm mense in die Joodse* en Romeinse samelewing van die eerste eeu. Dit is inderdaad ’n gebed wat die wêreld kan omspan.

Die lofprysing by Matt 6:13: “Want aan U behoort die …” (1933/1953-vertaling) ontbreek in die grondteks en kry waarskynlik gedurende die tweede eeu geleidelik vaste vorm (1 Kron 29:11 en volgende verse).

Vir verdere lees: CW Burger, BA Müller, DJ Smit (red) 1990. Riglyne vir prediking oor die Bergrede. Kaapstad: NGKU.

 

Sidebar