ONSEDELIKHEID

ONSEDELIKHEID dui op 1. onaanvaarbare seksuele gedrag wat in die Bybel* verskeie oortre­dings ingesluit het, soos betrokkenheid in prostitusie*, owerspel*, bloedskande (Kyk by: Hoerery; Ontug), en op 2. iets wat in stryd is met die goeie sedes, iets wat immoreel is – bv “om werkers uit te buit, is onsedelik” (sien HAT).

Onsedelikheid is in die Ou Testament* dikwels in same­hang met afgodery* gesien. Dit is streng verbied en oortreders is swaar gestraf (Num 25). Israel* word veral in Josua* tot 2 Konings* beskuldig van onsedelikheid, ongeregtigheid* en verwaarlosing van die kultus. In die Romeinse Ryk* het onsedelikheid algemeen onder die hoër klasse voorgekom, vertroue geskaad en wydverspreide kritiek ontlok. Die Sinici veroordeel rykdom* juis omdat dit sinsbevrediging kan verseker en so tot onsedelikheid aanleiding gee. In die Nuwe Testament* word onsedelikheid ook in ernstige lig beskou, en oortreders word uit die gemeenskap uitgesluit (1 Kor 5:1-11); trouens, Paulus* ge­bruik onsedelikheid as ’n maatstaf waar­mee die grense van die gemeente* bepaal word (1 Kor 5:9-13). Reeds in die vroegste Christelike dokument word die wil* van God as etiese voorskrif beskryf as heiliging* wat bestaan uit die vermyding van onsedelikheid en oneerlikheid (1 Tess 4:3-6). Beskuldigings van immoraliteit tydens die viering van die vroeë Christelike liefdes­maaltyd* (vgl Jud 12), ’n uitloper van die nagmaal*, blyk ongegrond te wees en is waarskynlik met ander Grieks-Romeinse vierings van die tyd verwar.

Sidebar