ONSTERFLIKHEID

ONSTERFLIKHEID. Die geloof in die onsterflikheid van die mens leef sedert die vroegste tye by feitlik alle volke. Filosowe soos Sokrates, Plato, Aristoteles en later Spi­no­za, Leibniz, Berkeley, Kant* en Hegel* het hulle met die onsterflikheid besig gehou. In die Katolieke* teologie is daar gepoog om die onsterflikheid te bewys. Die Bybel* leer (1 Tim 6:16) dat God alleen onsterflikheid besit. Hy het ons as “onsterflike mense” geskep. Volgens Paulus* is “die loon van die sonde* die dood*; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus* Jesus* ons Here*” (Rom 6:23, 2014-Direkte Vertaling). Die mens sterf dus, maar leef tog ook voort. By die dood keer die liggaam terug tot stof. Deur die geloof* in Christus bely die gelowiges dat ook die liggaam op die dag van Christus se we­derkoms* sal opstaan. Die sterflike liggaam word dan met onsterflikheid beklee (1 Kor 15:53) omdat Christus die dood oorwin het. Waar gelowiges wat gesterf het, reeds vóór die dag van die wederkoms by Christus is, glo ons dat hulle ná die wederkoms in hulle volle, verheerlikte mens-wees by Hom sal wees.

Die gelowiges in die Ou Testament* het reeds iets van die onsterflikheid verstaan (Ps 17:14; 73:23-26; Job 19:25-27). In die Nuwe Testament* word dit nog duideliker verkon­­dig, bv Luk 16:23; 2 Kor 5:8; Fil 1:23; Op 6:9; 7:9. Die ongelowiges sal ook opstaan om hulle Skepper te ontmoet.

 

Sidebar