ONTHOUDING

ONTHOUDING (1 KOR 7:9) het wydverspreid voorgekom in Bybelse* tye, soos onder andere in die Qumran*-gemeenskap, maar veral onder invloed van die Helle­nisme*, gedurende spesifieke periodes en vir sekere redes. Selfs algemene, populêre (of volks-) godsdienstige praktyke het nou­gesette asketiese* dade ingesluit wat dikwels gedien het as voorbereiding vir ’n mis­tieke* ontmoeting met ’n Goddelike wese. Onthouding het neergekom op vrywillige weerhouding van seksuele omgang in selfs vaste verbintenisse soos die huwelik*, die nakom van ’n spesifieke dieet waarbinne sekere kosse ontoelaatbaar geag is, en die kastyding van die liggaam* – na hierdie prak­tyke word soms verwys as enkratisme (afgelei van die Griekse* woord vir selfbeheersing, enkrateia). Sommige in Korinte* verabsoluteer Paulus* se asketiese voorkeur in 1 Kor 7:1, 6-9, wat in missiologiese waar­des (7:32-35) en apokaliptiese* oortuigings gegrond was (7:29-31), verkeerdelik tot ’n opdrag tot asketiese (sekslose) huwelike. Hy voeg egter by dat nie almal die gawe van onthou­ding ontvang het nie (7:7b, 17-24). Selibaat* as lewenswyse wat die huwelik en seksuele omgang vermy ter uitlewing van ’n eed, kom nie in die Nuwe Testament* voor nie (miskien wel in Matt 19:12?). In die latere Pauliniese tradisie word onthouding skerp gekritiseer (1 Tim 4:1-10). ’n Asketiese le­wens­wyse word in die na-Bybelse tydperk kenmerkend van veral sekere stromings binne die Christelike tradisie.

Sidebar