ONTLUIKENDE KERKE

ONTLUIKENDE KERKE (op Engels: Emerging Churches) is kerke wat probeer om in ’n postmoderne* tyd aan die beginsels van die Bybel* getrou te bly. Die postmoderne konteks stel nuwe vrae aan die kerk* wat 100 jaar gelede ondenkbaar was. Die ontluikende kerke worstel met die vorming van ’n 21ste-eeuse geloof. Dit is waarskynlik te vroeg om van ’n beweging of selfs nuwe teologie* te praat, maar in baie van dié gemeentes* word nuut en vars oor die aard van kerkwees gedink, en word trots teruggegryp na antieke wortels van die Christendom*. Die ontluikende kerke probeer navigeer in die postmoder­ne/postkoloniale wêreld en neem reeds afskeid van daardie aspekte van die moder­nisme* wat eintlik nie by die kerk van die Here* hoort nie. Hulle soek na die kernwaardes en wesenlike van die vroeë Christelike gemeentes. Daarom hoor ’n mens begrippe soos Ancient Church, Vintage Christianity of Early Church by hulle. Dit is ’n dekonstruksie* van die Konstantynse Christendom en rekonstruksie van die Christelike lewe in ’n nuwe wêreld. Die ontluikende kerke is pioniers­kerke wat nuwe grond breek. Ontluikende kerke innoveer en ondersoek nuwe ma­niere van kerkwees. Dit is beter om ontlui­kende kerke te verstaan as ’n beweging wat gevoed word uit alle denominasies en kerklike tradisies en nie daarop uit is om ’n nuwe denominasie tot stand te bring nie.

Vir verdere lees: Eddie Gibbs en Ryan Bolger, 2005. Emerging Churches: Creating Christian Community in Postmodern Culture. Grand Rapids: Baker Book House. Dan Kimball 2003. The Emerging Church: Vintage Christianity for a New Genera­tions. Grand Rapids: Zondervan. Dan Kimball 2004. Emerging Worship: Creating Worship Gatherings for New Generations. Grand Prapids: Zondervan. Nelus Niemandt 2007. Nuwe drome vir nuwe werklikhede. Wellington: Lux Verbi.BM.

Sidebar