ONTMITOLOGISERING

ONTMITOLOGISERING is as term afkomstig van die Duitse Nuwe-Testamen­tikus Rudolf Bultmann* (1884–1976), en het ontstaan in ’n algemene hermeneutiek* (leer van interpretasie) van die Nuwe Testa­ment*. Die doel van ontmitologisering is om die historiese verkondiging van die Nuwe Testament vir eietydse gelowiges verstaanbaar te maak: om die mitologiese “ui” waarin die Nuwe-Testamentiese verhale verpak is, laag vir laag af te skil om by die kern waaroor dit eintlik gaan, uit te kom.

Volgens Bultmann is die Nuwe Testament mitologies ingeklee. Die mitologiese perspektief van die antieke mense behels ’n drieverdieping-kosmologie: aarde, onderaardse hel en bo-aardse hemel; voorts sluit dit ook die ingrype van God, engele* en demone* in mense se lewe in, bv in wonderwerke*, Jesus* se maagdelike ge­boorte*, die hemelvaart*, en die weder­koms*. Hierdie spreekwyse is volgens Bult­mann problematies omdat die moderne mens nie meer die wêreldbeskouing van die Nuwe-Testamentiese mense deel nie; mense is nou wetenskaplik ingelig. Hulle verstaan siektes en rampe in terme van oorsaak en gevolg en gebruik moderne uitvindings om hulle situasie te verbeter. Maar Nuwe-Testamentiese mitologiese spreekwyse oor God is volgens Bultmann verder problematies omdat dit die onsigbare sigbaar voorstel, die transendente immanent maak of die Goddelike menslik beskryf en dit bring mee dat die ware boodskap vir die gelowige verberg of verwring word.

Ten einde ons die Bybelse boodskap reg te laat hoor, is ’n ontmitologiserende uitleg nodig. Negatief behels dit kritiek en analise van die mitologiese aspek van die Nuwe-Testa­mentiese teks, sonder dat die mites hier­deur geëlimineer of ’n deel van die teks uitgesny word. Positief wil dit die eintlike bedoeling van die mitologies-geformuleer­de boodskap laat hoor. Dit is moontlik omdat die spreke van God in Jesus* volgens Bultmann nie mitologies is nie. Ontmito­logisering kan dus nie losgemaak word van ’n eksistensiële interpretasie nie, dit wil sê ’n vertolking van die verkondiging vir die eietydse mens en sy/haar spesifieke bestaanswyse.

Vir verdere lees: R Bultmann 1985. New Testament and Mythology and Other Basic Writings. Londen: SCM Mayknoll.

 

Sidebar