ONTWIKKELINGSHULP

ONTWIKKELINGSHULP. “Ontwikke­ling” is ’n moderne begrip wat veral sedert die einde van die 18de eeu in sy huidige betekenis gebruik word. Dit is nie net op persone van toepassing nie, maar ook op gemeenskappe.

In die postmoderne* tyd het ontwikke­ling ’n sterk politieke konnotasie verkry. Daar is ’n toenemende en sterker wordende aandrang van lande wat minder bevoorreg is, om volhoubaar in die rykdom van die wêreld te kan deel. Om hierdie gaping tus­sen die welvarende, geïndustrialiseerde en die onderontwikkelde lande te oorbrug, verg tans vernuftige sosiale ingenieurswerk asook interstaatsbetrokkenheid. Die manier waarop ontwikkelingshulp deur die ont­wik­kelde “Noorde” aan die minder ont­wikkelde “Suide” gegee (moet) word, is ’n sentrale kwessie op die wêreld se politieke en ekonomiese terrein. Dit kan nie ontken word dat geldelike hulp wat in die verlede bv aan Afrika*-state gegee is, in baie gevalle in die regeerders se sakke beland het nie. Dit het meegebring dat ryker lande kopsku geraak het. In die eerste jare van die 21ste eeu was daar tog al hoe meer blyke van ’n verantwoordelikheidsin wat by armer lande ontwikkel het en ’n bereidheid om ook ’n mate van verant­woordelikheid vir mekaar se doen en late te aanvaar. Nepad (New Partnership for Africa’s Development) en die portuur-oorsigmeganisme in Afrika is voorbeelde hiervan. Dit lei reeds tot groter gewilligheid by ryker lande om betekenisvolle hulp te verleen.

Suksesvolle ontwikkelingshulpprojekte berus op ’n gesinchroniseerde benadering van korttermyn-herverspreiding van bates en inkomste ter stimulering van ekono­mie­se groei en volhoubare ontwikkeling daar­na.

Sidebar