OORDEEL

OORDEEL. Afgesien van ander betekenisse van dié woord, verstaan Christene hieronder veral die eindoordeel wat God oor die mense sal uitspreek. Bekende Skrif*gedeeltes handel uitvoerig hieroor (Matt 25:31-46; 1 Kor 3:10-17; Op 20:11-15), maar daar is ook ’n hele aantal kort verwy­sings (Rom 2:3; 14:10; Heb 6:2; 9:27; 10:27; 2 Pet 2:4; Judas 4; 6; Op 14:7). Ons aanvaar gewoonlik sonder meer dat die oordeel eers aan die einde sal plaasvind, maar Johannes* beklemtoon dat dit in ’n sekere sin nou reeds voltrek word net soos ons ook nou reeds aan die ewige lewe deel kry (Joh 3:18,19; 5:22; 12:31). Verder is dit duidelik dat ons goeie werke* beslissend is in die oor­deel. Dit staan egter nie teenoor geloof in Jesus* nie, omdat dit juis geloof is wat deur die liefde tot dade oorgaan, wat beteken om goeie werke te doen (Gal 5:6). Ons goeie werke sal ook beloon word (1 Kor 3:14 en volgende verse), maar dié loon is nie die ewige lewe nie, omdat ons dit uit genade ontvang. Die Dispensasionele Premillennia­lisme* aanvaar dat daar twee verskillende oordele sal wees, die een vir die regverdiges, en die ander een vir die goddeloses. Dit hang saam met hulle eienaardige verdubbeling van toekomsgebeure op grond van kleiner woordverskille. In hierdie geval meen hulle die regverdiges sal voor die regterstoel van God verskyn, en die goddelose voor die groot wit troon van God (Rom 14:10; Op 20:11 en volgende verse).

Sidebar