OORDEELSAANKONDIGINGS (EL­LEN­DE-AANKONDIGINGS, WEE-UIT­SPRAKE)

OORDEELSAANKONDIGINGS (EL­LEN­DE-AANKONDIGINGS, WEE-UIT­SPRAKE). In Luk 6:20-22 word vier seënspreuke (saligsprekings*) gebalanseer deur vier oordeelsaankondigings (of “ellen­de”-aankondigings – 1983-Afrikaanse Verta­ling en 2014-Direkte Vertaling), of “wee”-uitsprake – 1933-Afri­kaanse Vertaling; 6:24-26). Die oordeelsaankondi­gings herinner aan Ou-Testamentiese* uitsprake (Jes 5:8-23; Hab 2:6-19). Matt 5:3-12 het nét seënspreuke, die oordeelsaankon­digings kom eers in Jesus* se laaste toespraak (Matt 23) aan die orde. Luk 11:42-52 het ses oordeelsaankondigings, drie teen die Fariseërs* en drie teen die skrifge­leerdes* (“skrifkenners” in die 2014-Direkte Vertaling), maar Matt 23 het sewe, oënskynlik almal tot die Fariseërs en skrifgeleerdes gerig. Tog is Jesus besig om in Matt 23 met sy dissipels* en die menigte te praat. Hy praat direk in die tweede persoon met hulle in 23:8-12, en praat oënskynlik in 23:13-33 in die derde persoon oor die Joodse* leiers. Maar hierdie uitsprake was eintlik ook vir die skare en die dissipels bedoel. Dit is ’n voorbeeld van die klassieke stylfiguur, aversio, wat ’n effektiewe manier was om met die gehoor (dissipels) te praat terwyl dit lyk of iemand anders (Fariseërs) bedoel word. In ses van die sewe oordeels­aankondigings word “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!” woordeliks herhaal. Die retoriese herhaling van woorde en patrone onderstreep die erns van die vermaning. Die middelste van die sewe aankondigings in 23:23 ontmasker hulle skynbare gehoorsaamheid*, terwyl die geregtigheid*, barmhartigheid* en be­troubaarheid (vgl Miga 6:8) nagelaat word.

Sidebar