OORLOG

OORLOG is deur Carl von Clausewitz gedefinieer as “die voortsetting van politiek met ander middele”. ’n Oorlog impliseer ’n keuse vír ’n militêre in plaas van ’n diplomatieke, politieke of juridiese middel om ’n politieke konflik te besleg.

Daar bestaan verskillende soorte oorloë: 1. konvensionele oorloë met konvensionele wapens (dit wil sê nie met wapens van massavernietiging nie); 2. totale oorloë, waar kern-, biologiese, chemiese en geofisiese wapens aangewend (kan) word; 3. guerrilla-oorloë, wat veral binnelands geveg word en die vorm van ’n rebellie of selfs rewolusie kan aanneem; 4. terreur-oorloë, waar klein groepies ekstremiste belangrike teikens van (veral) supermoondhede aanval; 5. koue oorloë, wat veral die vorm van ’n psigologiese en ideologiese stryd aanneem.

Christene, en die kerk*, het deur die eeue verskillend op die oorlogsvraagstuk gerea­geer, wisselend van pasifisme* tot militaris­me. Die Vroeë Kerk* het ’n oorwegend pasifistiese standpunt ingeneem, maar in die vyfde eeu formuleer die kerkvader Augus­tinus* die teorie van ’n “regverdige oorlog” wat vandag nog – na talle verfynings – die standpunt van die hoofstroomkerke is. Dit impliseer onder andere die volgende: 1. slegs ’n wettige regering mag ’n oorlog maak; 2. daar moet ’n juiste oorsaak wees; 3. daar moet ’n juiste intensie wees; 4. die juiste middele moet aangewend word; 5. daar moet ’n juiste balans tussen wins en verlies wees; 6. dit behoort slegs ’n verde­digingsoorlog te wees; 7. dit moet ’n laaste uitweg wees.

Hierdie teorie word egter deur kritiese teenargumente ondermyn. Die teorie impliseer bv dat elke lands­regering regter in eie sake is (’n juridies onaanvaarbare standpunt) asook dat die moderne middele (kernwapens) sy doel (’n vreedsame samelewing) kan vernietig.

Sedert die ontstaan van die Verenigde Nasies (1945) en (veral) die Wêreldhof in Den Haag (1922) is die weg gebaan vir regerings om veel eerder ’n juridiese as mi­litêre oplossing vir internasionale konflikte te soek. Geen land mag vandag ’n oorlog begin sonder goedkeuring van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad nie – ’n beslissing wat die VSA in 2003 geïgnoreer het met die inval in Irak.

Vir verdere lees: RG Clouse (red) 1981. War: Four Christian Views. Downers Grove: IVP. JH van Wyk 1991. Moraliteit en verantwoordelikheid: Opstelle oor politieke etiek. Potchefstroom: PU vir CHO. V Walzer 1980. Just and Unjust Wars: A Moral Argument with Historical Illustrations. Harmonds­worth, Middlesex: Penguin.

 

Sidebar