OOSTERS-ORTODOKSE KERKE

OOSTERS-ORTODOKSE KERKE be­staan uit ’n aantal onafhanklike kerke of patriargate wat elkeen ’n eie patriarg (ook genoem ’n metropolitaan of aartsbiskop) aan die hoof het, byvoorbeeld dié van Konstantinopel*, Aleksandrië*, Antiogië*, Jerusalem* en Moskou. Onder die patriarge neem die patriarg van Konstantinopel die eerste plek in, maar dan slegs as eerste onder gelykes. In die jaar 1054 het daar ’n skeuring in die destydse Christendom* gekom. Die Oosterse kerke wou nie die leer van die filioque* aanvaar nie, terwyl die Westerse kerk dit wel as deel van die belydenis erken het. Dit het dus gelei tot die bestaan van die Oosters-Ortodokse of Bisantynse kerke aan die een kant en die Westerse Katolieke Kerk* aan die ander kant. Die Oosters-Ortodokse kerke word gekenmerk deur ’n liturgie* waarin ’n mistieke* spiritualiteit* sterk figureer. In die godsdiensbelewing speel ikone* ’n besonder groot rol, omdat geglo word dat dit direkte toegang verleen tot Christus* of die heilige wat daarin afgebeeld word. Daarom is daar ook verering van die ikone. Hierdie kerke erken gewoonlik, soos die Katolieke Kerk, sewe sakramente*.Priesters*2 mag wel trou, maar biskoppe* moet ongetroud wees. Slegs die eerste sewe ekumeniese* konsilies word as gesaghebbend beskou.

Sidebar