OOSTHUIZEN, GERHARDUS CORNELIS (PIPPIN)

OOSTHUIZEN, GERHARDUS CORNELIS (PIPPIN) (1920–) is een van die baanbrekers op die gebied van gods­dienswetenskap in Suid-Afrika. Ná sy legitimasie in 1944 het hy vir enkele jare as kapelaan in die SA Weermag diens gedoen, voordat hy as predikant* in twee gemeentes* van die NG Kerk* (Bulawayo en Queens­town) gearbei het. Die akademie het egter geroep, en in 1959 is Oosthuizen as lektor aan die Universiteit van Fort Hare benoem. In 1968 het hy ’n aanstelling as professor en hoof van die departement godsdienswetenskap aan die Universiteit Durban-Westville aanvaar. Vanaf 1984 tot 1994 het hy as professor aan die Universiteit van Zoeloeland en ook as direkteur van die Navorsings­eenheid vir Nuwe Religieë en Onaf­hanklike Kerke in Suid-Afrika gedien. Met sy talle navorsingsprojekte en publikasies oor die Afrika-Onafhanklike Kerke*, asook oor die verskillende godsdienste en reli­gieuse verskynsels in Suid-Afrika, het Oost­huizen diep spore getrap, in die binneland sowel as in die buiteland. Verskeie eredoktorsgrade is aan hom toegeken, deur die universiteite van Durban-Westville, Zoeloe­land en Unisa. Hy is ’n medewerker van die Association for the Study of Religion in South Africa.

Vir verdere lees: GC Oosthuizen 1977. Die godsdienste van die wêreld. Pretoria. NGKB.

Sidebar