OOSTHUIZEN, JEAN

OOSTHUIZEN, JEAN het in die Vrystaat grootgeword en is by Perskor se koerante (Hoofstad, Die Transvaler en Oggendblad) in die praktyk van joernalistiek geskool. Hy het ook as politieke korrespondent by die SAUK gewerk voordat hy as nuusredakteur van die NG Kerk* se amptelike koerant, Die Kerkbode* (later net “Kerkbode”) aangestel is. Hy het hom goed van sy taak gekwyt en mettertyd ‘n internet-gespreksplatform, “Kletskerk”, geskep. Die kletskerk-geklets het egter vir leiersfigure in die NG Kerk al hoe meer problematies geword aangesien ook nie-gelowiges toegelaat is om soms skreiende dinge oor godsdiens en die kerk kwyt te raak. Die Kerkbode se formele band met Kletskerk is verbreek, en Oosthuizen het in sy persoonlike hoedanigheid voortgegaan om almal wat van die geleentheid gebruik wou maak, die kans te gee om aan gesprekke deel te neem. Kletskerk was ‘n plek waar ‘n vrye dialoog gestimuleer is waarvoor nie elders in en om die kerk ruimte was nie.

In 2013 was Oosthuizen betrokke by die Kerkbode se borgskap van ‘n gesprek by die Stellenbosse Woordfees waar bekende kerklui en ook persone wat die kerk om verskillende redes verlaat het, in die paneel sprekers sou dien. Toe die direksie van Tydskrifmaatskappy, ook die kerklike beheerliggaam van Kerkbode, daarvan hoor, was daar groot ontevredenheid en Oosthuizen is geskors en het uit sy pos bedank. Die direksie se hantering van die saak het in die media heelwat kritiek uitgelok. Die direksie het klaarblyklik nie die koste van hulle handelswyse bereken nie, maar Oosthuizen het ook doelbewus die grense wat aan hom gestel is, uitgedaag.

Oosthuizen het hierna voortgegaan om as vryskutskrywer artikels en berigte vir verskeie publikasies te skryf, en hy het ook die aanbieder van die RSG-program, “Uit ‘n ander hoek”, geword. In 2018 verskyn sy boek, “Die opkoms en ondergang van die NG Kerk”, waarin hy krities kyk na die NG Kerk se geskiedenis sedert Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap tot vandag. Oosthuizen bied in die boek “’n blik op die tragiese geskiedenis van ‘n instelling wat deur die aandadigheid aan verontregting stelselmatig irrelevant geraak het” (bekendstellingspamflet). Jean Oosthuizen was ‘n medewerker aan die gedrukte Christelike Kernensiklopedie (CKE).

 

Sidebar