OPBOU

OPBOU. Vir Paulus* is die gemeentes* ’n gebou van God (1 Kor 3:9). As die grondlegger van die gemeentes in Filippi*, Tessa­lonika* en Korinte* het hy soos ’n be­kwame boumeester die fondament gelê (Rom 15:20; 1 Kor 3:10) – Christus* Jesus*. Nou word op hierdie fondament gebou, ook deur ander medewerkers (1 Kor 3:10). Paulus skryf dat alles wat hy doen, in die belang van die gemeente se opbou is (2 Kor 12:19). Hy gebruik die gesag wat die Here* aan hom gegee het, om die gemeente op te bou, nie af te breek nie (2 Kor 10:8; 13:10).

Die gemeentes bou egter ook self aan die gebou. Paulus vermaan hulle om hulle toe te spits op die dinge wat tot wedersydse opbou lei (Rom 14:19). Daar is baie dinge wat toelaatbaar vir Christene is, maar nie alle dinge is opbouend nie (1 Kor 10:23). Die kenmerk van opbou is dat daar in liefde* teenoor die ander opgetree word (1 Kor 8:1). Christus is die voorbeeld vir sodanige optrede; Hy het nie aan Homself gedink nie, daarom moet ’n Christen ook nie aan hom- of haarself dink nie, maar doen wat goed is vir die medemens en wat hom of haar in die geloof* opbou (Rom 15:2).

Wat beteken dit om die ander op te bou? Paulus skryf dat gelowiges diegene wat naasbestaandes aan die dood* afgestaan het, moet opbou deur hulle daarmee te troos dat die ontslapenes uit die dood opgewek sal word wanneer Christus weer kom (1 Tess 5:11). Hy skryf ook dat die profesie* die gemeente opbou, maar spreek in tale* net die persoon self (1 Kor 14:3-12). Die erediens* moet so afloop dat dit tot opbou van die gemeentelede is (1 Kor 14:17, 26-27).

Efesiërs* benadruk dat die gemeente God se gebou is. God woon in hierdie ge­bou wat op die fondament van die apos­tells* se prediking met Christus as hoeksteen gebou is (Ef 2:20-22; vgl ook 1 Pet 2:5).

Sidebar