OPE BRIEF

OPE BRIEF, 9 JUNIE 1982. 123 gelegi­timeerdes van die NG Kerk* het in 1982 ’n Ope Brief opgestel en versoek dat dit as laatstuk tydens die Algemene Sinode se sitting in Oktober daardie jaar sou dien. Die versoek is geweier aangesien die kerkordelik-korrekte prosedure nie gevolg is om dit op die sinode* se tafel te laat kom nie. Die brief is op 9 Junie 1982 in Die Kerkbode* gepubliseer. In die Ope Brief is onder meer gesê dat “’n bestel waarin onversoenbaarheid tot ’n samelewingsbeginsel verhef word en die verskillende dele van die bevolking van Suid-Afrika van mekaar vervreem, onaanvaarbaar is.” Die brief het apartheid* in kerk en staat onomwonde afgewys. Dit het binnelands en ook uit die buiteland groot reaksie uitgelok. ’n Boek, geredigeer deur Adrio König* en Willem Nicol*, Perspektief op die Ope Brief, is later daaroor gepubliseer.

Sidebar