OPENBARING AAN JOHANNES, DIE (BYBELBOEK),

OPENBARING AAN JOHANNES, DIE (BYBELBOEK), is die laaste boek van die Nuwe Testament*. Openbaring is deel van ’n groep boeke wat in die tyd van die Nuwe Testament geskryf is en “apokaliptiese ge­skrifte” (Kyk by: Apokaliptiek) genoem word. Apokaliptiese geskrifte word gekenmerk deur ’n groot klem op die feit dat “die laaste dae”* aangebreek het. Sulke geskrifte word gewoonlik gebruik om die lesers wat verdrukking ervaar en vir wie die toekoms uitsigloos lyk, te bemoedig en gerus te stel dat God binnekort sal ingryp en hulle lot sal verander. Om hierdie boodskap oor te dra, vertel die skrywers gewoonlik van visioene of gesigte* wat hulle van die Here* ontvang het; ook van besoeke wat hulle aan die hemel* gebring het en waar hulle met behulp van tussengangers (bv engele*) ’n bemoedigende boodskap ontvang het oor die tyd wat voorlê en wat alles nog binnekort moet gebeur. Apokaliptiese geskrifte word ook gekenmerk deur die gereelde voorkoms van simboliek, bv simboliese getalle soos sewe en tien.

Oor die skrywer van Openbaring is daar twee opinies. Sommige kenners aanvaar dat die boek deur die apostel Johannes*, die seun van Sebedeus*, geskryf is. Hy word dan ook as die skrywer van die Johannes-Evangelie* en die drie Johannes-briewe* beskou. Ander kenners is egter van mening dat Openbaring nie deur die apostel Johannes geskryf is nie, maar deur ’n onbekende rondreisende apokaliptiese profeet in Klein-Asië* wie se naam Johannes was. In Openbaring self word slegs gesê dat die skrywer se naam Johannes is en dat hy na die eiland Patmos* verban is vanweë sy Christenskap (Op 1:9).

Die meeste kenners is van mening dat Openbaring teen ongeveer 95 nC geskryf is en oorspronklik gerig is aan Christene* wat in Klein-Asië* gewoon het. In Op 2 en 3 word die name van sewe gemeentes* in Klein-Asië aan wie elk ’n boodskap gestuur word, genoem. Toe Openbaring geskryf is, was Domitianus keiser* van die Romeinse Ryk* (81–96 nC). In dié tydperk het Christene in Klein-Asië baie swaar gekry. Gewoonlik is Romeinse keisers eers ná hulle dood as gode vereer, maar Domitia­nus is reeds tydens sy eie leeftyd in Klein-Asië as god vereer. Die Christene het geweier om hieraan deel te neem en is daarom as ’n bedreiging vir staatsveiligheid beskou. Afgesien hiervan het die Christene konflik met die Jode* beleef omdat hulle geglo het dat Jesus* die Messias* is. Die Christene het ook vervreemd gevoel binne die heidense* samelewing waarin hulle elke dag moes leef. Afgesien van die feit dat hulle nie aan keiserverering wou deelneem nie, was daar ook baie ander praktyke in die destydse samelewing wat hulle teen die bors gestuit het, bv spele en gildes wat aan die gode gekoppel is en heidense kultusse terwyl hulle ook ekono­miese diskriminasie beleef het. Sommige Christene het in hierdie situasie kompromieë met die heidense lewenswyse probeer sluit, maar dit word ten sterkste deur Open­baring afgekeur. Daarteenoor bemoedig die boek die Christene in Klein-Asië wat getrou bly en daarom swaar kry.

Gevolglik is die oorheersende tema van die boek oordeel* en verlossing: God se oordeel sal sigbaar word deur die manier waarop Hy die heidene*, die Romeinse regering, die stad Rome* en al hulle onder­steuners, sal straf. Die Christene sal egter God se verlossing ervaar. Die skrywer be­klemtoon dat die eerste fase van dié verlossing reeds met Christus* se eerste koms (sy sterwe en opstanding*) aangebreek het. Hy is immers die Leeu uit die stam van Juda*, die Lam* wat geslag is (Op 5:5-6). Die finale fase in die verlossing sal spoedig aanbreek wanneer Christus as Oorwinnaar sal terugkeer, saam met sy hemelse leërs, en sy vyande sal vernietig (Op 19:11-21). Die laaste tyd tot en met Christus se wederkoms* sal egter ’n moeilike tyd wees – ook vir die Christene omdat God se oordele hulle ook indirek sal raak.

Openbaring se indeling: die boek begin met die briefaanhef, die tema van die boek en ’n vertelling van Johannes se roepingsvisioen: hoe die opge­stane Christus aan hom op die eiland Patmos verskyn het (1:1-20). Daarna volg die sewe briefboodskappe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië (2:1–3:20), die oopmaak van die sewe seëls wat God se oordele oor die wêreld laat plaasvind (4:1–8:5) en die blaas van die sewe oordeelstrompette (8:6–11:19). Hierna word van die stryd tussen die draak en sy twee trawante (die dier uit die see en die dier uit die aarde) en die Lam vertel (12:1–14:20), gevolg deur ’n beskrywing van wat gebeur as die sewe wraakbakke met God se oordeel uitgegooi word (15:1–16:21). Die val van Babilon* (’n simboliese naam vir Rome) word in 17:1–19:10 beskryf, gevolg deur ’n aangrypende beskrywing van Christus se verskyning: hoe Hy die dier, die vals profeet en die draak oorwin, die laaste oordeel en die Nuwe Jerusalem* (19:11–22:5). Die slot van die boek word gevorm deur 22:6-21.

Daar is verskillende maniere om Open­baring te verstaan. Sommige Christe­ne verkies om Openbaring letterlik te verstaan. Dan word dit gelees asof dit ’n voorspelling is van eras wat mekaar in die kerk- of wêreldgeskiedenis opvolg. Ander beperk die boodskap van Openbaring tot die oorspronklike situasie waarin dit geskryf is asof dit net iets te sê gehad het vir die Christene in Klein-Asië in 95 nC. Nog ander lees Openbaring asof die boek slegs vir 21ste-eeuse Christene bedoel is. Hulle haal dan gewoonlik hier en daar gedeeltes uit wat “voorspellings” sou wees van dinge wat nou gebeur, bv die vernietiging van die osoonlaag. Nog ander verkies om Openbaring te lees asof dit ’n boek is wat bloot ewige, tydlose waarhede bevat wat oor en oor in die geskiedenis afspeel.

’n Verantwoordelike interpretasie van Openbaring hou rekening met beide die oorspronklike ontstaansituasie van die boek én die feit dat dit ’n boek is wat Christene bemoedig tot en met die voleinding van die wêreldgeskiedenis. Dit beklemtoon die feit dat God se koninkryk in Jesus Christus ’n werklikheid geword het en dat die geskiedenis onherroeplik afstuur op die Here se finale triomf.

Vir verdere lees: JA du Rand 2007. Die A-Z van Openbaring. Vereeniging: CUM.

 

Sidebar