OPENBARING

OPENBARING. God se openbaring aan die mens is ’n soewereine daad waaroor Hy uit sy eie vrye wil besluit het. Daarom het Hy ook self bepaal wat Hy wou openbaar, hoe en wanneer Hy dit wou doen, en wat sy oogmerk daarmee was. Die openbaring van God het uiteraard ’n ontmoetings­karakter. In hierdie vrye daad van God stel Hy Homself in ’n besondere verhouding met die mens. Dit beteken egter nie dat God daarmee van die gesindheid of gewilligheid van die mens afhanklik is om egte openbaring daar te stel nie. In die openba­ring is God die vrywillige gewer en die mens die noodwendige ontvanger, ook al sou hy nie bewus wees daarvan nie, en selfs al sou hy die erkenning of aanvaarding daarvan weier. In die openbaring gaan dit voor alles oor God se selfopenbaring. Hy maak Homself aan die mens bekend as die Lewende God; Hy openbaar ook sy eienskappe. Hy is soos Hy Homself openbaar. Al is God self altyd die middelpunt van sy openbaring, maak Hy Hom bekend as die Een wat alles wat buite Hom bestaan, daargestel het en wat ook uitreik na sy skepping*. Die hele kosmos behoort aan Hom, en hoe die verhouding tussen Hom en sy skepping presies is, kan die mens net deur sy openbaring weet. Hy openbaar ook alles wat Hy gedoen het om sy doel met sy skepping te bereik ten spyte van die sondeval* en die verskriklike gevolge daarvan. In sy openbaring stel God dit ook duidelik wat sy wil vir die mens se lewe is.

Verskeie gereformeerde* belydenisskri­f­te* gaan uit van die standpunt dat God twee middele gebruik om Hom te openbaar: die eerste is die skepping, onderhouding en regering van die wêreld. Die tweede is sy heilige en Goddelike Woord*. Alhoewel verskillende terme deur teoloë gebruik is om hierdie onderskeiding aan te dui, is die mees gangbare dié van alge­mene* en besondere* openbaring.

 

Sidebar