OPPERMAN, DIEDERIK JOHANNES (DIRK)

OPPERMAN, DIEDERIK JOHANNES (DIRK) (1914–1985) was die digter wat die oorgang van die Dertigers na die meer uitgesproke Veertigers in die Afrikaanse poësie gemaak het. Sy eerste bundel Heilige Beeste het opspraak verwek met die aardsheid van tema en taalgebruik. Opperman se verse toon ’n sterk verbondenheid met die land en met Afrika*.

By hom het die digter die taak om die kuns te bevry, die engel uit die klip te verlos. Soos die beeldhouer in die gedig “Carrara” die beelde uit die klip moet loskap, so moet in hierdie gedig ook die skilder die verhaal van die skepping teen die dak van die Sikstynse kapel voorstel. Michelangelo* is in hierdie vers die beeldhouer wat deur die pous* verplig word om die kapel se dak te beskilder. As hy God dus as die skeppingsmag in sy skildery voorstel, word God ook die groot Kunstenaar wat alle groot kuns begelei. In die taak van die digter as ’n verlossersfiguur, vervul die digter daarom God se skeppingsopdrag. In dié sin berus Opperman se digkuns dan ook op ’n religieuse basis.

Waar Van Wyk Louw* in sy gedig “Die hond van God” in gesprek tree met God en die kerk*, doen Opperman dit in sy ewe groot gedig “Legende van die drie versoekinge” in die bundel Negester oor Ninevé. Hier herdig Opperman Christus* se ontmoeting met Satan* in die woestyn waar die duiwel Christus probeer versoek. Opperman maak dit eietyds van toepas­sing. Opmerlik is dat in sy laaste “outo-bio­grafiese” bundel, Komas uit ’n bamboesstok, die slotgedig, wanneer hy afskeid neem van die lesers, eindig met “Deo Gratias”.

Sidebar