OPSTANDING VAN CHRISTUS

OPSTANDING VAN CHRISTUS. Saam met Christus* se kruisiging*, is die geloof* in sy opstanding dié sentrale element van die Christologiese oortuigings in die Nuwe Testament* en die Christelike kerk*. Die Evangelies* en Handelinge* beskryf Chris­tus se opstanding as deel van die verhale oor Jesus*. In Paulus* se briewe* vorm Christus se dood* en opstanding die hart van sy teologie* soos blyk uit verwysings daarna in formules, belydenisse* en himnes.

Die vroeë belydenis oor Christus se op­standing wat vooruitwys na alle gelowiges* se opstanding*, het vroeg reeds verwarring onder Christus se volgelinge geskep, soos duidelik blyk uit een van die heel eerste Christelike dokumente, 1 Tessalonisense*. Die vroegste tradisies in die Nuwe Testa­ment oor Jesus se verskynings* ná sy op­standing is dubbelsinnig, met Jesus wat skielik verskyn en weer verdwyn, wat aangesien word as ’n vreemdeling en selfs as ’n gees of spook, of met ’n tuinier verwar word. Later tradisies verteenwoordig oënskynlik ’n apologetiese tendens met die klem op Christus se liggaamlike eienskappe en funksies, waarskynlik om die gedagte van ’n hemelse verskyning te weerlê. Daar is uiteenlopende gegewens wat moeilik met mekaar vereenselwig kan word oor aan wie en waar Jesus sou verskyn het, met die vroegste weergawe (1 Kor 15:5-7) wat nêrens anders só in die Nuwe Testament aangetref word nie, en verskeie plekke van verskyning wat vermeld word (in Galilea* by die see of op ’n berg, of Jerusalem*).

Die huidige debat oor Christus se op­stan­ding vervlak dikwels tot ’n keuse tussen resussitasie (her-lewing) en ’n simboliese of metaforiese* verstaan van dit wat die Evan­gelies (en Handelinge) beskryf. Wanneer die geloofsuitsprake van die Bybel egter ge­manipuleer word om historiese en/of wetenskaplike redenasies te onderlê, gaan daar veel van die impak en eenheid van die groter verhaal van en oor Jesus verlore. Die opstanding van Jesus uit die dood is ewenwel ’n fondamentsteen van die Christelike geloof. Hiersonder val ons geloof in duie.

 

Sidebar