OPSTANDING VAN DIE GELOWI­GES

OPSTANDING VAN DIE GELOWI­GES. In die Ou Testament* is opstanding-verwysings min en meestal onduidelik, en net in latere tekste. Die Ou-Testamentiese mens verlang eerder na ’n langer lewe soos die aartvaders* gehad het (Gen 15:15; 35:29), as na die hiernamaals. Die dood* was meestal nie ’n vreesaanjaende gebeure nie, en was selfs eervol indien die afgestorwene tot ’n ryp ouderdom gelewe het (Job 42:17), erfgename of ten minste een seun agtergelaat het (Gen 15; 17–18), en die nodige begrafnisgebruike gevolg is (2 Sam 1:11-27). Israel* deel met ander volke gedagtes oor die dooies as vergetenes (Pred 9:5-10), afge­sny van kontak met lewendes en God (Ps 88:6-12) in ’n wêreld van die dooies: die doderyk*. Die genesingswonders van Elia* en Elisa* (1 Kon 17:17-24; 2 Kon 4:31-37; 13:20-21) en verwysings na die herstel van Israel (Hos 6:1-3; Eseg 37:1-14; moontlik Jes 53:10-12; 26:19) bring wel die gedagte van opstanding na vore. Benewens die moeilike teks in Jes 26:19, verwys Dan 12:1-3 wel na die opstanding van gelowiges* binne ’n apokaliptiese* verstaan van die wêreld (2de eeu vC). Hier word die ontsteltenis van die Joodse* getroues tot bedaring gebring met die belofte van geregtigheid* wat deelname verseker aan die nuwe era wat God vir sy volgelinge gereedmaak.

Teen dié Joodse agtergrond, ken die Nuwe Testament* verskillende interpretasies oor die gelowiges se opstanding: die meer tradisionele Sadduseërs* wys dit af, terwyl die Fariseërs* (wat ná die Joods-Romeinse oorlog van 66–70 nC die oorhand verkry het), die opstandingsgeloof onderskryf (Mark 12:18-27; Matt 22:23-33; Luk 20:27-38; Hand 23:6-9). Die ontwikkeling binne Joodse* denke deur die eeue het aanleiding gegee tot verskillende interpretasies van opstan­ding: opwekking van die liggaam*, weeropwekking van die gees of siel*; ewige lewe* of opname in die hemel* by afsterwe of kort daarna – en soms was onsterflikheid* die teenswoordige gawe vir die regverdiges. Die aard van die opstandingsliggaam was ’n kwelvraag waaraan Paulus* veral in 1 Kor 15 aandag gegee het. Die Nuwe Testament interpreteer die Joodse gedagtes Christo­logies, met opstanding as God se eskatolo­geese* handeling wanneer Hy as regter* die dooies opwek om hulle vir hulle dade te beloon. In die Nuwe Testament kan die opstanding van gelowiges kwalik los van die opstanding* van Christus gesien word.

 

Sidebar