ORDEN

ORDEN. Om tot ’n toepaslike kerklike amp (predikant*, priester*2) gewy te word (HAT, 2005). Te onderskei van legitimasie*. Waar legitimasie in gereformeerde* kerke beteken dat ’n kandidaat ná die voltooiing van teologiese* studies en die voldoening aan kerklike vereistes, deur die kerk se bevoegde liggaam amptelik toegelaat word om as predikant te dien – die betrokke persoon is dan ’n “proponent” – vind sy/haar ordening plaas wanneer hy/sy in ’n gemeente* seremonieel as leraar* ingeseën word, waarna hy/sy as “dominee*” bekend staan. Solank die dominee in ’n gemeente van die betrokke kerk diens doen, of in ’n ander goedgekeurde kerklike pos werk, behou hy/sy sy/haar leraarsbevoegdheid, maar kan dit verloor as hy/sy die kerklike diens verlaat.

 

Sidebar