ORDES

ORDES. ’n “Orde” soos die woord hier gebruik word, beteken ’n groep Christene* wat die evangelie* van Jesus* op ’n spesifieke wyse uitleef, volgens ’n patroon wat amptelike kerklike goedkeuring geniet. Die woord dek diverse tegniese terme vir verskillende soorte gemeenskappe: “ordes” in die kerkregtelike sin, “kongregasies”, “seku­lêre institute” en “verenigings van apostolie­se lewe”. Die grootste diversiteit bestaan in die Katolieke Kerk*, maar kom ook in die Ortodokse* en Anglikaanse* geloofsgemeenskappe voor.

Die meeste ordes bestaan uit mans of vroue wat ’n voltydse, permanente, selibate*, gemeenskaplike lewe lei, en staan as “religieuse ordes” bekend. Maar daar is ook ordes van mense wat in hulle gesinne bly en ’n gewone dagwerk doen. Hierdie “derde ordes” maak deel van ’n groter familie uit, bv die Sekulêre Franciskaanse Orde, wat saam met die manlike Francis­kaners en Arm Klariste die Franciskaanse familie vorm.

Die ordes voer hulle oorsprong terug na die arm, selibate, gemeenskaplike lewe van Jesus self, en sy gehoorsaamheid* tot aan die kruis*. Dié voorbeeld stel Hy ook aan ander mense (Matt 19:21-29). Want kenmerkend van die religieuse ordes, is armoede, kuis­heid en veral gehoorsaamheid. Die vroeë Christengemeenskap soos deur Lukas* beskryf, bly in hierdie verband ’n voortdurende inspirasie (Hand 2:42-47).

Die hedendaagse religieuse ordes het uit die kluisenaarsgroepe ontwikkel wat in die derde en vierde eeu gelyktydig in Egipte* en Sirië ontstaan het. In die Weste word dit aan Benediktus van Nursia (480–547) en sy Benediktynse monnike in die abdy van Monte Cassino gekoppel. Tydens die Midde­l­eeue het meer beweeglike groepe soos die Dominikane, Franciskane, en Serviete ont­staan. Vanaf die 16de eeu het die verskeidenheid groepe vermenigvuldig om voorsiening te maak vir spesifieke behoeftes: skole, hospitale en sendingwerk. (Kyk ook: Monastisisme.)

Sidebar