ORGAANOORPLANTING

ORGAANOORPLANTING hou, soos baie ander sake, verband met die geweldige mediese en tegnologiese vordering die afgelope halwe eeu. Hoewel daar vroeër al oorplantings gedoen is (bv ho­ringvlies), was dit die eerste hartoorplanting in Kaapstad in 1968 deur dr Chris Barnard en sy span wat die wêreld aan die praat gesit het. Uit hierdie debat het talle etiese vrae na vore gekom en is daar mettertyd talle praktiese reëls opgestel wat dit moes opvang.

Vir gelowiges is orgaanoorplanting eties nie ’n probleem nie. As dit lofwaardig is om jou lewe vir jou vriend te gee, is dit sekerlik in orde om ’n orgaan te skenk wat vir iemand ’n nuwe lewe kan gee. Dit is goed vir gelowiges om hulle familie in te lig dat hulle organe by die dood beskikbaar is, of dit skriftelik te doen (ingeligte toestemming). Vir die medici was dit in hierdie verband nodig om ’n duidelike doodsdefinisie te kry sodat organe nie voortydig verwyder word nie. Daarby moet dit nie bloot oor eksperimentering gaan nie. In die Suid-Afrikaanse konteks, waar die owerheid eerder vir voorkomende en primêre ge­sond­heids­org gekies het as vir duur spesia­lisgeneeskunde, bly die etiese probleem van skaars hulpbronne en die onbekostigbaarheid van orgaanoorplanting vir die oorgrote meerderheid voortbestaan.

 

Sidebar