ORIGENES

ORIGENES (circa 185–254) van Aleksan­drië* in Egipte* was ’n vroeë teoloog uit die tweede eeu nC wat in Grieks* geskryf het en in die Vroeë Kerk* feitlik net soveel aangehaal is soos Paulus*.

In 202, terwyl hy nog ’n tiener is, sterf sy pa, Leonidas, in die Christenvervolgings. Origenes wou ook as martelaar* sterf, maar sy ma het sy klere weggesteek. Daar word vertel dat Origenes homself op ’n vroeë ouderdom ontman het om hom heeltemal aan die Christelike geloof te wy en ’n streng asketiese lewe (Kyk by: Askese) te lei. Hy het sy teologiese opleiding van Kurillos* van Aleksandrië aan die beroemde plaaslike kategetiese skool gekry. Toe Kurillos tydens die vervolgings vlug, word Origenes die hoof van die skool.

Daar is meer as 2 000 van sy werke be­kend, maar hy kon soveel as 6 000 geskryf het. Hy het veral kommentare op die Bybel*boeke geskryf, waarvan sy kommentaar op Hooglied* een van die bekendste is. Origenes het die heilige geskrifte alle­gories* uitgelê. Verder het baie preke van hom behoue gebly, asook apologetiese wer­ke waarin hy die Christendom* verdedig, soos sy Teen Selsus. Hy het ook twee aske­tiese werke geskryf, Oor martelaarskap en Oor gebed.

Die belangrikste van Origenes se teologiese werke is sy Oor grondbeginsels. In vier boeke hanteer hy al die dogmatiese kwessies van sy tyd, dit is, die aard van God, die Drie-eenheid*, die skepping*, die vrye wil*, en die Heilige Skrif*. Sy volgelinge het egter sy leer onakkuraat oorgelewer sodat hy later van subordianisme* aangekla is. Origenes is op die Tweede Ekumeniese Si­no­de van Konstantinopel (553 nC) as ketter* veroordeel en baie van sy werke het verlore gegaan.

Origenes het gesterf nadat hy in Sesarea vir sy geloof gemartel is.

Sidebar