ORREL

ORREL. Augustinus* het gesê: Cantare amantis est (sing is ’n saak van die liefde). Die gemeente* van die Here* is ’n singende gemeente. Ons lees in die Ou Testament* van allerhande liturgiese (Kyk by: Liturgie) liedere (Eks 15, Ps 145–150). Die gemeente het egter nie gesing nie, dit was hoofsaaklik priesters*1 wat gesing het. Die volk se deelname was beperk tot enkele uitroepe soos refreine, bv: “Halleluja.*1

In die diens in die sinagoge* was daar, sover ons kan vasstel, sang sonder begelei­ding van musiekinstrumente. So het die eerste Christene* dit ook gedoen.

Zwingli* was gekant teen alle musiekinstrumente en selfs teen sang in die ere­diens*. Calvyn* het hom beywer vir sang in die erediens, maar hy was teen die gebruik van musiekinstrumente. Luther* was egter ten gunste van die begeleiding van sang in die erediens deur musiekinstrumente.

Daar is ’n verskeidenheid instrumente wat tydens die erediens gebruik kan word. Die aard van die byeenkoms – ’n ontmoe­ting van God en sy volk – bepaal ook die soort instrumente.

Die orrel is van heidense* oorsprong. Dit is aanvanklik met die heidense kermis geassosieer. Boonop is die orrel gespeel in die arenas waar Christene* gemartel en doodgemaak is. Deur die kloosters* en die paleis­kapelle van die vorste, het die orrel mettertyd toegang tot die Katolieke mis* verkry. Dit is egter nie hier gebruik vir die begeleiding van die gemeentesang nie, maar vir uitvoerings en die begeleiding van kuns­sang. Die orrel het in so ’n mate guns verkry dat dit dié kerklike begeleidingsinstrument geword het. Die orrel is uitnemend geskik as begeleidingsinstrument, onder andere omdat dit ’n musikale omvang het wat alle toonaarde kan vertolk. Verder is talle komposisies geskryf met die orrel in gedagte. In dié verband kan na JS Bach* se magistrale komposisies verwys word.

Sidebar