ORTODOKSIE

ORTODOKSIE. “Ortodoks” is afgelei van twee Griekse* woorde wat saam “regsinnig” beteken. In die kerkgeskiedenis is daar twee stromings wat albei “Ortodoksie” genoem word. Die eerste was die regsinnige standpunt wat die vroeë sinodes (kerkvergaderings) teen dwa­lings (bv oor die twee nature van Christus*) ingeneem het. Atanasius* was bv in sy stryd teen Arius* ’n verteenwoordiger van dié Ortodoksie. Die Oosterse Kerk, ná sy skeiding met die Westerse Katolieke Kerk* (1054 nC), noem homself die Ortodokse Kerk* (bv Russies of Grieks).

Die ander Ortodoksie het kort ná die Reformasie* (16de en 17de eeu) in die Protestantisme* (onder Lutherane en Calviniste) posgevat. Hierdie Protestantse Ortodoksie wou die herondekte evangeliese waarhede, die regsinnige leer, teen enige afwyking beskerm. Maar hulle het dit met ’n skolastieke redeneertrant, wat op die filosofie van Aristoteles* teruggaan, gedoen. So ’n rasionalistiese benadering wou die geopenbaarde waarhede van die Skrif* met logies-sluitende argumente ondersteun.

Die Protestantse Ordodoksie se invloed kan aan die hand van enkele bekende Christelike leerstukke geïllustreer word. In die Skrifleer sou hulle voorstanders van ’n diktaatteorie wees, dit wil sê dat die Heilige Gees* op ’n meganiese manier die Bybel­skry­wers geïnspireer het, sonder dat hulle eie omstandighede daarin ’n rol gespeel het. Die Bybel* is sodoende losgemaak uit sy historie­se bedding en bloot gehanteer as ’n vindplek vir dogmatiese stellings. In die Gods­leer was hulle meer geïnteresseerd in die ewige, onveranderlike wese van God, as in sy handelinge in die geskiedenis. Daarom dink hulle supralapsaries* oor die uitver­kiesing*. Beza* ontwerp ’n tabel waar die dubbele uitverkiesing, as die oorsaak van alles, met twee parallelle lyne geteken word. En in die verlossingsleer word ’n lo­giese en selfs chronologiese heilsorde (eers wedergeboorte, dan geloof ens) tot in die fynste besonderhede uitgewerk.

 

Sidebar