OU TESTAMENT

OU TESTAMENT. Die eerste 39 boeke van die Bybel* is die Protestantse* “Ou Testament”. Dit het oor ’n tydperk van 1 100 jaar vC ontstaan, en word in drie hoofdele verdeel. 1. Wet* (tora*, Pentateug*): die Jode* se heel eerste “Bybel”. 2. Profete* (nefi-im): wat die ontwikkeling van die teokrasie* beskryf. Josua*, Rigters*, Samuel* en Ko­nings* is “vroeë profete” en die res “latere profete”: die “groot profete” (Jesaja*, Jeremia*, Esegiël*) en twaalf “klein profete”. 3. Geskrifte (ketubim, hagiographa): Hierin speel die werking van die openbaring in die volkslewe af. Dit behels die digterlike boeke (Job*, Psalms*, Spreuke*), vyf kleinere geskrifte (Megillot) wat by feeste voorgelees is (Hooglied*, Rut*, Klaaglie­dere*, Prediker*, Ester*), en Esra*-Nehemia*, Kronieke* en Daniël*. Die Ou-Testamentiese boeke is hoofsaaklik in Hebreeus* en enkele dele in Aramees* geskryf met weinig onderlinge variante in die manu­skripte tydens die tekste se ontwikkelingsproses. Die 39 boeke van die Ou Tes­ta­ment is by die Sinode van Jamnia (ongeveer 90 nC) deur die kerk* as gesagvolle Skrif bevestig.

Die Pentateug is in die 3de eeu vC in Grieks* vertaal (die eerste vorm van die Septuaginta*) uit ’n Hebreeuse* weergawe wat ouer is as dit wat in ons Bybel voor­kom. Daarna is die res van die boeke vertaal, ingeslote die apokriewe* (deuteroka­no­nieke*) boeke. Septuaginta-weergawes was in algemene gebruik onder die Nuwe-Testamentiese* skrywers.

Sidebar