OU VERBOND

OU VERBOND. Die term “nuwe verbond” is goed bekend in die Nuwe Testa­ment*, veral by die instelling van die nag­maal*, waar Jesus* by die beker spesifiek sê dat dit die “nuwe verbond” in sy bloed is. In die Ou Testament* word die uitdrukking “nuwe verbond” in Jer 31:31 aangetref, waar God sê dat Hy met die volk ’n nuwe verbond sal sluit. In 2 Kor 3:14 word verwys na die lees van die Ou Testament, waar die Grieks* dieselfde woord gebruik wat elders met “verbond” vertaal word. Die term “ou verbond” kom nie in die Bybel* voor nie, maar moet verstaan word in teenstelling met die nuwe verbond. Die ou verbond is die verbond wat deur die nuwe verbond vervang word. In die Ou Testament is veral twee verbonde van belang, naamlik die verbond met Abraham* en die verbond by Sinai*2. In die verbond met Abraham val die klem op die beloftes wat God aan Abraham gegee het – veral die belofte van ’n nageslag en ’n land. By Sinai staan God se genade* ook voorop, maar die klem val op dit wat die volk moet doen as God se volk en uit dankbaarheid vir verlossing. Dit is veral hierdie verbond by Sinai wat volgens Jeremia*  (31:31-34) vervang sal word deur ’n nuwe verbond, wat deur Christus* tot stand sou kom (Heb 8:6).

Sidebar