OUDERLING

OUDERLING. Die Jode het reeds “oudstes” geken. Hulle het in die Sanhedrin* saam met die skrifgeleerdes* en owerpries­ters* gedien (Matt 26:3). Op hulle eerste sendingreis het Paulus* en Barnabas* in elke Christelike gemeente* ouderlinge aangestel (Hand 14:23). In Fil 1:1 word die gemeente met hulle ouderlinge en dia­kens* aangespreek. En in 1 Tim 5:17 word onderskei tussen ouderlinge wat preek en onderrig gee (predikante*) en diegene wat goeie leiding gee – wat goed regeer. Die ouderlinge moet ’n lewende geloof* hê en in hulle toesig oor die gemeente ’n voorbeeld vir almal wees (1 Pet 5:1-4).

Ouderlinge moet die lidmate van die gemeente toerus vir hulle dienswerk; die regering van die gemeente behartig; huisbesoek doen; opsig en tug* uitoefen; toesien dat die sakramente* nie ontheilig word nie; waak oor die suiwerheid van die leer*; opsig hou oor die leer en lewe van die predikant; medeverantwoordelik wees vir die kategetiese onderrig; sorg vir die instandhouding van die erediens*; en hulle het die roeping om ander na Christus* te lei.

Die amp van die ouderling is ’n hoeksteen in die struktuur en organisasie van enige Reformatoriese kerk.

Vir verdere lees: R Maré 2003. Die ouderling en diaken in die Here se diens: Prinsipiële en praktiese riglyne vir die dienswerk van die ouderling en die diaken. Hatfield: Lig in Duisternis.

Sidebar