OUTENTISITEIT (OUTENTIEK­HEID)

OUTENTISITEIT (OUTENTIEK­HEID), gemunt binne die konteks van 20ste-eeuse eksistensialisme*, dra die betekenis van die kwaliteit van egtheid, van getrou (“waar”) wees teenoor jouself. Alhoewel die begrip sentraal staan in die eksistensialistiese denke, strek die wortels daarvan ver terug in die geskiedenis van die Westerse denke tot by Sokrates. Vir hom het menslike deug daarin bestaan dat die mens bo blote mening uitstyg tot selfkennis. Selfkennis was nodig vir die mens om “eg” te wees, om getrou teenoor jouself te wees. Vir Augustinus* was die spirituele kant van die “ware” self – in teenstelling tot die “on-egte” eise van begeerte en van die liggaam* – belangrik. So ook word in die denke van Jean-Jacques Rousseau* die ware, natuurlike mens – in sterk teenstelling met die heersende tradisie – as wesenlik goed ver­klaar. Vir hom word “on-egtheid” deur die samelewing op die mens afgedwing. Vir die vader van eksistensialisme, Søren Kierke­gaard*, was die “outentieke” mens die mens wat jy persoonlik gekies het om te wees. Hierteenoor het die sg onaanvaarbare “openbare” of “trop-” identiteit gestaan. Meer as vyftig jaar later het Nietzsche* hierdie teenstelling van “persoonlike” en “trop-” identiteit by Kierke­gaard oorgeneem. Hy oefen op sy beurt weer invloed uit op Martin Heidegger* se beskouing van outentiekheid. By Heidegger het dié term die betekenis verkry van die onverskrokke erkenning van menslike indiwidualiteit en die handhawing van die onderskeid tussen die indiwidu se wesenlik persoonlike “in-die-wêreld-wees” en die openbare identiteit van die anonieme samelewingsbepaalde self.

Sidebar