OUTONOMIE

OUTONOMIE beteken letterlik dat die mens self (outo) die wet (nomos) stel. Dit kan in verskillende verbande gebruik word, bv staatkundige outonomie, die outonomie van die universiteit, ens. In die algemene etiek* wil dit sê dat die mens bevoeg sou wees om self te bepaal wat goed en kwaad is. Daarteenoor leer die Christelike etiek die teonomie, dit wil sê dat God (Theos) die wet stel. Die uitdrukking “outonomie van die rede” dui op die oorbeklemtoning van die menslike rede as hoogste norm.

In gereformeerde* kerkregtelike sin sien outonomie op die outonomie (onafhanklikheid) van die kerk* teenoor b­v die staat*. Verder sien dit op die outonomie of selfstandigheid van die plaas­like kerk (gemeente*) as volle openbaring van die liggaam van Christus* (die kerk). Hierdie beginsel is fundamenteel in die pres­biteriale kerkregeringstelsel. Plaaslike kerke of gemeentes wat volgens hierdie stelsel regeer word, leef egter ook in kerkverband (dit wil sê in breër verband met ander gemeentes – in ringe/klassisse – en in sinodes*) soos onder andere gereël in Artikel 30 en 84 van die Dordtse Kerkorde*. Outonomie moet dus onderskei word van independentisme* waar plaaslike kerke/gemeentes baie los van mekaar funksioneer.

Sidebar