OVAMBO’S EN DIE CHRISTELIKE GELOOF

OVAMBO’S EN DIE CHRISTELIKE GELOOF. Die sewe Ovambo-stamme (Kwanyama, Ndonga, Kwambi, Ngandjera, Mbalantu, Kwaluudhi, Nkolonkadhi-Eun­da) woon in die noordelike gebied van die huidige Namibië langs die Angolese grens. Die gebied word vandag in die vier sogenaamde O-streke verdeel: Omusati, Oshana, Ohangwena, Oshikoto. Menings verskil oor die oorsprong van die Ovambo. Die alge­mene vermoede is dat hierdie matriliniêre graanboere vanaf sentraal Afrika* hulle tussen die 12de en 17de eeu in Namibië gevestig het. Vir die sewe taaldialekte word die kollektiewe woord Oshi­vam­bo gebruik. Ndonga is as amptelike taal vir skole en kerke aanvaar, en daarom het die eerste volledige Bybel* in Ndonga verskyn. ’n Tweede Bybelvertaling is later in Oshikwa­n­yama uitgegee, aangesien die Kwanyama die grootste stam is.

In 1870 is die evangelie* die eerste keer aan die Ovambo verkondig toe die Finse Sendinggenootskap in die Ndonga-gebied begin werk het. Met groot entoesiasme het die agt eerste sendelinge* weggespring en sendingstasies by vier stamme opgerig: Ndonga, Kwambi, Kwanyama en Ngand­jera. Vir die eerste 13 jaar het die Finse sen­delinge met baie ontberings en probleme geworstel en hulle is mettertyd almal na die Ndonga-gebied teruggetrek. Die groot deur­braak het in 1883 gekom as gevolg van die mooi verhouding wat tussen sendeling Martti Rautanen en die nuwe Ndonga-ko­ning, Kambonde lya Mpingana, op die Olukonda-sendingstasie ontstaan het.

Sedert 1888 is Ovambo as geestelike wer­kers opgelei om evangelisasie*werk te doen, bv Gustav Iithoko (in 1882 die eerste dopeling), wat by hoofman Nehale begin werk het. Die Finse sending het be­kendheid verwerf vir die mediese dienste en die bosskool-beweging, wat geletterdheid wyd versprei het. Teologiese opleiding vir pastore is in 1922 begin en die eerste selfstandige sinode* is in 1954 gehou. Ander kerke, byvoorbeeld die Katolieke* en Anglikaanse* kerke, het eers in 1924 onder die Ovambo begin werk.

Vir verdere lees: GL Buys en SVV Nambala 2003. History of the Church in NamibiaAn Introduction. Windhoek: Gamsberg Macmil­lan. JS Malan 1995. Peoples of Namibia. Win­gate Park: Rhino Publishers. A Shejavali 1970. The Ovambo-Kavango Church (Ongerki Yomowambo­kavango). Helsinki: Kauppa­kirjapaino Oy.

Sidebar