OWERHEID

OWERHEID. Volgens die Nuwe Testament* is die owerheid deur God ingestel en met gesag beklee ter wille van ’n ordelike, geordende en veral menslike samelewing. ’n Owerheid is “dienaar van God” (Rom 13), nié omdat hy mag het nie, maar tot die mate waarin dié mag aangewend word “ten goede” van die mense. Calvyn* soek in ’n owerheid die vermoë om die samele­wing “tot ’n gemeenskap van mense” in te rig, mense met mekaar te verenig en algemene vrede en rus te verseker. Die be­lang­rikste toets van goeie regering is daar­om ook die mate waarin reg en geregtig­heid* geskied en waarin daar na die armes se regte omgesien word. As dit ontbreek, word ’n regering ’n “rowerbende” (Augus­tinus*). Reg uitgeoefen, moet regeringsgesag gerespekteer en gehoorsaam word. Hierdie gehoorsaamheid word begrens deur ons gehoorsaamheid aan God. As dié twee in konflik kom, kies die Christen* gehoorsaamheid aan God en is dan ook bereid om die gevolge daarvan te dra. In Suid-Afrika se pluriforme en sekulêre demokrasie kan ons nie meer in tradisionele gereformeerde* sin sê dat die owerheid daar is om die kerk* en sy leer te bevorder nie (vgl Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis*), maar wel dat die owerheid aan die kerk die ruimte en vryheid moet bied om sy leer te verkondig. Die grondslag van goeie regering is die “koestering van die menslike gemeenskap”.

Sidebar