PALEONTOLOGIE

PALEONTOLOGIE dank sy ontstaan aan die kombinering van geologie (suksessiewe aardlae) en biologie (fossiele). Reeds in 1815 het William Smith in ’n geologiese kaart van Engeland plant-suksessie in ’n definitie­we volgorde in rotslae aangetoon. Later sou Darwin* en die neo-Darwinisme ’n prominente betekenis toeken aan wat bekend staan as die “paleontologiese rekord” (be­doel is die rekonstruksie van geinterpre­teer­de samehange wat berus op fossiel­vond­ste).

Die geologiese tydrekening – op grond van die half-waarde tye van radioaktiewe stowwe – het enersyds tydperke van ’n veel langer duur aangedui, maar is tegelyk an­der­syds gekonfronteer met die gebrek aan talle tussenvorms in die fossielvondste. Pro­minente paleontoloë het meer as honderd jaar ná Darwin se 1859-geskrif daarop ge­wys dat “evolusie tussenvorms benodig, maar dat die paleontologie dit nie bied nie” – gevolglik is talle paleontoloë nie meer bereid om hierdie gapings bloot geo­logies “weg te verklaar” nie. Begryplik is daar­om die poging van Stephen Gould om met relatiewe ruspunte (“punctuated equilibria”) die steeds-aanwesige gapings tegemoet te tree. DB Kitts merk in die pro-evolusie-tydskrif Evolution op dat bioloë evolusie* aanvaar op grond van ’n teorie wat reeds evolusionisties is en voeg dan daar­aan toe dat ’n mens die paleontologiese re­kord vry kan laat van ’n evolusie­teorie.

 

Sidebar