PANENTEÏSME

PANENTEÏSME is ’n filosofiese beskou­ing oor die aard van God se verhouding tot die skepping*. Dit handhaaf die oortui­ging dat God die skepping in Homself insluit, maar nie daardeur voltooi word nie, of te wel steeds groter as die skepping bly. God is in alles, maar ook groter as alles. Dis ’n middelposisie tussen deïsme*, wat glo dat God wel die heelal geskep het, maar dit laat staan het om op sy eie voort te gaan (God bestaan dus volledig buite die skepping), en panteïsme* wat glo dat God volledig een en gelyk is aan die skepping (God bestaan dus slegs as die volledigheid van die skepping).

Panenteïsme is die filosofiese posisie wat die naaste daaraan kom om die verhou­dingsmatige karakter van God se betrokkenheid by sy skepping uit te lig, met ander woorde dat God se bestaan gerig is op sy skepping en in voortdurende interaksie is met sy skepping. Uit ’n teologiese* oogpunt loop rasionele Godskonstrukte soos hierdie egter die gevaar om die openbarings- en geloofskarakter van ons kennis van God te verruil vir spekulatiewe argumente oor die aard van God se karakter wat vreemd is aan die drie-enige* God van die Christelike tradisie.

Sidebar